Bly positief vra Jongboer

0
447
Herman Janse van Rensburg (tweede van regs) is op 17 April 2019 as Vrystaat Landbou se 24ste Jongboer van die Jaar aangewys. Hier is hy saam met die ander finaliste. Van links is Ludwig Becker, Henk Harmse, Janse van Rensburg en Milne Bredenkamp. FOTO: 3'KIE'S-FOTOGRAFIE

Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar vir 2019 sê jong boere moet positief bly oor ‘n toekoms in Suid-Afrika en alle beskikbare geleenthede gebruik.
“Jong boere moet ophou Google oor moontlike geleenthede wat daar in die buiteland is. Google eerder oor watter geleenthede daar in Suid-Afrika is,” sê Herman Janse van Rensburg, wat op 17 April 2019 in Bloemfontein as VL se 24ste Jongboer-wenner aangewys is.
Luidens ‘n VL-nuusverklaring het dié raakvatter van Arlington met ‘n VL-kontantprys asook ander pryse van verskeie borge weggestap. Hy sal ook die Vrystaat op 31 Oktober 2019 by die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie in Gauteng verteenwoordig.
Die ander finaliste in 2019 was Milne Bredenkamp, Henk Harmse (albei van Bultfontein) en Ludwig Becker (Warden).
Janse van Rensburg (39) se boodskap aan jong landbouers is: “Dink positief en wees hoopvol. Hoop is baie belangrik. Want as jy nie hoop het nie, is daar nie lewe nie.”
Mielies en sonneblomme maak die grootste deel van Janse van Rensburg se boerdery uit, maar hy boer ook met vee. Hy bedryf ook ‘n onderneming, Arlington Staalwerke, waar hy implemente bou.
Janse van Rensburg meen jong boere is belangrik, omdat daar voortdurend vernuwing moet plaasvind om onder meer voedselsekuriteit te verseker. Hy glo aanpasbaarheid in alle afdelings is ook nodig. “Daar is ‘n groot toekoms vir elke landbouer in Suid-Afrika,” sê hy. “Die groot ding gaan daaroor om positief te wees.”
Hy was oorweldig deur dié eerbewys. “Om eerlik te wees, voel ‘n mens eintlik baie nietig en klein (om só iets te ontvang). Dis ‘n groot voorreg,” sê hy. Afdelings waarop die finaliste beoordeel is, het onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid ingesluit.
Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die Department Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, was dit ‘n baie moeilike proses om die wenner te bepaal. “Die kandidate was naby aan mekaar en ons was verbaas om sulke goeie kandidate in ‘n moeilike jaar (vir landbou) te hê.”

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za