Vanaf 25 April tot 4 Mei is dit skoutyd in Bloemfontein. Hierdie groot geleentheid, wat slegs een maal ’n jaar aangebied word, lewer ’n ongelooflike ekonomiese bydrae en inspuiting vir die stad, besighede en inwoners.
Volgens Bloemskou se Hoof Uitvoerende Beampte, Elmarie Prinsloo, is die jaarlikse bydrae meer as R50 miljoen, met meer as 1000 tydelike werksgeleenthede wat geskep word.
“Gastehuise, kommersiële besighede en kleinhandel, diensverskaffers van veral items soos advertensieborde, verpakking, tente, klank, beligting ens. baat goed by die jaarlikse invloei van mense vanoor die hele land,” sê Prinsloo.
Prinsloo moedig Bloemfonteiners aan om in hierdie uitdagende tye waarin ons leef, ’n tydjie opsy te sit vir jou familie, gesin en vriende. “Skou is vir kinders soos ’n verjaardag en Kersfees – dit is ’n ongelooflike opwindende en lekker tyd wat kosbare herinnerige bou,” sê sy.
Prinsloo nooi besoekers om vanjaar met ’n ander fokus die skou te besoek … “ontspan en geniet dit met ’n positiewe benadering om die klein dingetjies raak te sien en die leersame waarde van soveel uitstallings te ervaar,” sê sy.
“Maak ’n draai by die Suid-Afrikaanse weermag, Suid-Afrikaanse polisiediens, die groot verskeidenheid diere by landbou, skaaphond-vertonings, Ramp Rodeo met BMX- en skaatsplank-waaghalse se vertonings, die ovaalbaanwedren, asook die plaaswerf met hoenders, duiwe, koivisse, plaasdiere, stoeterye, die brandweermuseum, asook die SuidAfrikaanse Pantserskoolmuseum,” voeg sy by. Vanjaar se skouprogram is propvol met iets vir almal.
“Die uitstallings is mooi en die kosstalletjies is volop. Kom kuier saam by vanjaar se Bloemskou.”
Besoek www.bloemskou.co.za vir die program, toegang, tye en spesiale aanbiedinge.
Justine Fortuin