Bloemskou bring vermaak uit die boonste rakke

0
479

Maricelle Botha

April is bykans hier en dit beteken net een ding, Bloemskou! Vanjaar vind die skou oudergewoonte van 25 April tot 4 Mei by die skouterrein in Curielaan plaas. Hier word landbou en vermaak een en soos gewoonlik, iets vir oud en jonk gebied. Daar is talle hoogtepunte waarna uitgesien kan word op vanjaar se verhoë. Groot name in die plaaslike musiekbedryf soos Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Dr Victor & Rasta Rebels, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld, Sipho Hotstix Mabuse en Zahara bring ‘n verskeidenheid musiek vir skougangers.

Daar kan ook uitgesien word na die Mej. Windmill Bloemskou-kompetisie. Die sangerpaartjie Wynand en Chereé sal by die geleentheid gaste vermaak. Vir die jongspan is die immergewilde Lollos daar. Saam met Alta Joubert en Minki Burger maak die vriendelike karakters van Lalaland seker dat jou kinders ook die skou geniet.  As testosteroon sterker as kultuur vloei, is daar ook aksiebelaaide WWP Wrestling en Ovaltrack Racing vir die manne. Vir die nuutste tendense in handwerk, maak seker dat jy by die kreatiewehandwerk-saal ‘n draai maak. Waar kry jy nog 2 500 verskillende handgemaakte artikels op een plek te sien? Van brei- en hekelwerk, masjienwerk, borduurwerk, stokperdjies, spesiale onderwys, laslap- en kwiltwerk, blommerangskikking, weef- en spinwerk en teddiebere tot primêreskool-kuns en hoërskool-kuns.

Die Idees-tydskrifspan bied ook tydens die fees ‘n paar werkwinkels aan waar jy die kuns kan aanleer om yskasmagnete te maak, decoupage te doen asook lino-druk en stempels te gebruik. Idees se eie Dala Watts en Ciskia Hanekom sal die leserwerkwinkels aanbied. Indien jy belangstel om een of al drie van die werkwinkels by te woon, stuur ‘n e-pos na entertainment@spottedapple.co.za.
Vir meer inligting asook die landbouprogramme en sy hoogtepunte, besoek die skou se webtuiste by www.bloemskou.co.za.