Die 2024 Bloemskou wat op 25 April 2024 afgeskop het, is met groot sukses op Saterdag 4 Mei afgehandel.
Volgens Bloemskou se hoof uitvoerende beampte, Elmarie Prinsloo, was dit een van die beste skoue in die geskiedenis.
“Bloemskou sou nie sonder die bydrae van honderde rolspelers, uitstallers, rasgenootskappe, telers, borge en besoekers moontlik gewees het nie. Vanjaar se skou is gekenmerk deur uitstekende herfsweer, die hoogste bywoning sedert 2012, ’n rekordgetal lewende hawe en goeie kwaliteit uitstallers en vermaak,” sê Prinsloo.
Sy voeg by dat ten spyte van een vakansiedag minder, was bywoning 17,65% meer as in 2023 met ’n totaal van 126 427 besoekers wat vanjaar se Bloemskou bygewoon het.

Sy sê verder dat die Bloemskou homself weereens bewys het as een van die gewildste en grootste skoue in Suid-Afrika, wat ’n groot finansiële en ekonomiese inspuiting vir die stad en streek beteken.
“330 uitstallers en 58 kosstalletjies was deel van vanjaar se Bloemskou. Ons het vanjaar 2 342 inskrywings by die kreatiewe handwerk- en kunsafdeling ontvang, wat ’n 13,3%-verhoging is. Dit is veral verblydend hoeveel inskrywings daar van skole en kinders is en watter ongelooflike trots daar is om hulle artikels by die Bloemskou te sien. Tans is die afdeling die grootste in sy soort in Suid-Afrika. Daar is ook vanjaar ’n 10,7%-styging in die suiwel-inskrywings, met ’n totaal van 321 suiwelproduk-inskrywings ontvang vanaf verskeie suiwelfabrieke in Suid-Afrika,” vertel Prinsloo.
Volgens Prinsloo was vanjaar se landbouprogram propvol, met die grootste lof van telers oor die wonderlike platform, gees en bemarkingsgeleentheid wat Bloemskou bied vir die stoetveebedryf.
“Ons dank aan elke besoeker, vertoner, uitstaller, diensverskaffer, borg en die media vir die ongelooflike ondersteuning en aandeel aan die sukses van Bloemskou 2024, wat weereens ’n groot ekonomiese inspuiting vir Bloemfontein en die Vrystaat was. Ons sien almal weer by Bloemskou 2025!”
Saamgestel deur Justine Fortuin