Bloem leerder stabiel nadat spies hom tref

0
972

‘n Leerder aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein sterk goed aan nadat hy Vrydag tydens ‘n atletiekbyeenkoms deur ‘n spies in die maag getref is.

Volgens die skool se woordvoerder, Gideon Goosen, het die fratsongeluk Vrydagmiddag tydens die Top 20 Uitnodigingsatletiekbyeenkoms in die Vrystaat-stadion plaasgevind.

Basson sê die Graad-8 leerder het tydens die byeenkoms by die spiesgooi uitgehelp. Hy is egter per ongeluk in die maag getref nadat ‘n ander atleet die spies skeef gegooi het.

“Ongelukkig het een van die atlete die spies buite die toegelate radius van tussen 30 – 40m gegooi. Dit het toe die leerder in die maag getref.”

ER24 se woordvoerder, Russel Meiring, sê die leerder is in die linkerheup getref en hy het gelukkig nie enige ernstige beserings opgedoen nie.

Goosen sê die leerder het reeds ‘n operasie ondergaan.

“Die leerder het reeds ‘n operasie ondergaan om te verseker dat daar nie skade aan sy ingewande is nie. Hy is tans in ‘n stabiele toestand in die hospitaal. Hy word daar gehou om die wond te behandel,” sê Goosen.

Die leerder is eers na die Mediclinic Bloemfontein gebring waarna hy na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas is.

– Mark Steenbok