Die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch het verlede week hul titel in die onder 19-afdeling op die 20ste jaarlikse Konica Minolta/Amanda Coetzer-tennistoernooi gerieflik teen die gasheer, die Hoër Meisieskool Oranje, verdedig.
Bloemhof en Oranje moes egter eers van ‘n paar ander top-tennisskole in rondomtalie-wedstryde ontslae raak alvorens hulle in die eindronde-wedstryde slaags kon raak.
Die Stellenbosch-meisies het in die eerste wedstryde teen Claredon Hoërskool te staan gekom en hulle met 21 – 1 geklop. Oranje het op hul beurt die span van Afrikaans Hoër Meisieskool (Pretoria) ‘n deeglike loesing (21 – 1) gegee.
In die tweede ronde het Bloemhof sy eweknie van die Hoërskool Stellenbosch met 21 – 0 afgeslag, terwyl Oranje vir Waterkloof met ‘n loesing van 19 – 4 kleedkamers toe gestuur het.
Menlopark (Pretoria) was volgende om vas te val teen Bloemhof met 21 – 2. Oranje was in hierdie ronde (3de) weer gerieflik aan die wenkant toe hulle Paarl Gimnasium 19 – 4 bloedneus gegee het.
Met dié gunstige oorwinnings het Bloemhof en Oranje hul plek in die halfeindwedstryde losgespeel. Bloemhof het te staan gekom teen Waterkloof en gerieflik met ses wedstryde gewen. Waterkloof kon nie een van die ses wedstryde wat hulle onderskeidelik teen die nommer 1 tot nommer 6-spelers gespeel het, beklink nie.
Oranje het in die halfeindwedstryd teen Menlopark te staan gekom en die Bloemfonteinse meisies het die meisies van die noorde huis toe laat verlang nadat hulle ook met 6 – 0 geseëvier het.
Toe spring die beste ses spelers van Oranje en Bloemhof aan mekaar in die eindronde. Oranje het egter nie genoeg skietgoed gehad om Bloemhof skrik te maak nie. Dit was slegs in die wedstryd tussen die sedse gekeurde spelers, Marné Derksen (Oranje) en Janneke Turck (Bloemhof), waar Oranje ‘n wedstryd agter hulle naam kon skryf. Derksen het 6-2, 2-6, 6-3 gewen.
In die wedstryd vir eerste gekeurdes het Minette van Vreden (Bloemhof) vir Linge Steenkamp (Oranje, 6 – 0 , 6 – 2) geklop. Carmen Fichardt, tweede gekeur vir Oranje het teen Lize-Alet Morkel (Bloemhof, 6 – 3, 6 – 1) vasgeval.
Die onderskeidelike derde en vierde gekeurde spelers van Oranje, Gizelle Naudé en Inge Greyling, kon ook nie hond haaraf maak teen hul teenstanders nie. Naudé het 6 – 0, 6 – 2 slae gekry teen Bloemhof se Corin de Waal en Greyling het swaar geleef teen Bianca Wolmarans (6 – 0, 6 – 2).
Die vyfde gekeurde Gina Moolman (Oranje) het teen haar Bloemhof-eweknie, Rochelle Pienaar. nie veel beter presteer nie. Sy moes toekyk hoe Pienaar dié wedstryd met 6 – 0, 6 – 2 voor haar wegraap. – RUFUS BOTHA