SABRINA DEAN – ‘n Plaaslike besigheidsvrou sê sy glo persoonlike betrokkenheid is een van die belangrikste elemente wat daartoe gelei het dat sy vanjaar aangekondig is as die SA Vrouebesigheidsraad se Besigheidsvrou van die Jaar.
Alda Roux, uitvoerende beampte by Securiforce in Bloemfontein, sê sy voel baie geëer om die nasionale titel te verower, veral op die raad se vyf-en-twintigste bestaansjaar-kongres wat tans in Potchefstroom plaasvind.
“Ons het die voorreg gehad om die stigterpresident, dr. Rika Venter, te ontmoet by hierdie kongres. Dit is regtig ‘n eer en ‘n voorreg om as die vyf-en-twintigste wenner aangekondig te word,” sê sy.
Sy sê dit is belangrik om jou besigheid deur-en-deur te ken. “Ek is baie betrokke by Securiforce op operasionele vlak. Ek dink wat ‘n verskil maak, is die feit dat van wagte, regdeur tot bestuur, aan my rapporteur. Ek is ook op grondvlak baie betrokke, ek is in die veld en ek besoek self die mense,” sê sy.
Roux sê die SA Vrouebesigheidsraad skep ‘n geleentheid om fenomenale vroue te ontmoet en om netwerkgeleenthede te skep vir jou besighed. “Jy kry die geleentheid om regoor Suid-Afrika met vroue wat self hulle besighede bestuur, entrepreneurs en professionele en korporatiewe dames, te skakel,” sê sy.
Roux sê hulle is reeds genader om die raad in Bloemfontein op die been te bring. “Ons sal definitief ‘n netwerkgeleentheid skep vir meisies, opkomende sakevoue en bestaande sterk sakevroue om deel te vorm van hierdie raad,” sê sy.
Date: