Nasionale landbourekords word nie daagliks gebreek nie, maar Hatari Boerdery buite Bloemfontein het met hul stoetram, Oorlog, twee keer só gemaak.
Die eerste keer was in 2021 toe Jan en Marius Eksteen dié ram vir ’n destydse nasionale rekordprys gekoop het, en die tweede keer was toe hulle sy teelmateriaal vir ’n nuwe nasionale rekord van R4200 per strooitjie verkoop het. “Dit is my en my broer se boerdery,” het Marius Eksteen verduidelik.

“Ons boer al met wild van 2003 af, en ons het in 2016 met die skaapboerdery begin.” Hatari fokus op teelmateriaal en het oorspronklik begin met die mees gesogte teelmateriaal wat beskikbaar was, het Eksteen verduidelik. Die broers se doel is om die beste produk moontlik te produseer, en Oorlog se saad is ’n goeie begin.
“Die nasionale rekord op Oorlog se saad is die eerste rekord wat ons met saad behaal het,” het Eksteen gesê.

Voorbeeld van Oorlog se lammers. FOTO: Verskaf
“Die vorige nasionale rekord was omtrent R2400 per strooitjie, waar Oorlog s’n nou vir R4200 per strooitjie verkoop het. “Die driejarige ram is in 2021 opgeveil vir ’n destydse rekordprys van R350 000. Eksteen het verduidelik dat Oorlog van ’n Rooihek 2 Broers-bloedlyn kom, van Dormer-boere van Barkly-Oos wat in 2008 met ’n Dormer-stoet begin het.
“Wat sy strooitjies so waardevol maak, is dat hy uit een van die gesogste bloedlyne in die bedryf uit kom,” het Eksteen vertel.
“Sy teelmateriaal is ook ongelooflik. Ons het nou begin sien hoe lyk sy lammers, hy teel ongelooflik goed,” het hy trots gesê. Oorlog is ’n bewyste en beproefde kuddevaar, wat nie net die ram self nie, maar ook sy teelmateriaal só gesog maak.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za