Bloemfonteinse fotograaf trap ten bate van siek kinders

0
Bloemfonteinse fotograaf trap ten bate van siek kinders
Kobus Robbertze. FOTO: VERSKAF

‘n Bloemfonteinse avonturier vertrek vanoggend op sy trapfiets om ‘n sirkelroete van sowat 1 200 km in minder as drie weke om die Vrystaat te voltooi. Kobus Robbertze, ‘n plaaslike fotograaf, pak dié tog aan ten bate van Reach for a Dream, ‘n organisasie wat daartoe toegewyd is om siek kinders se drome te bewaarheid.

Robbertze, wat ook dié organisasie se amptelike fotograaf is, is só passievol oor kinders wat aan lewensgevaarlike siektes lei, dat hy besluit het om dié fietstog aan te pak. Hy gaan op die roete op dorpe stop en tyd by besigheidslui en ander betrokkenes deurbring in ‘n poging om geld vir Reach for a Dream in te samel. Robbertze gaan op pad ook by ‘n paar siek kinders aandoen en hul drome bewaarheid.

Hy is avontuurlustig en omdat hy foto’s vir Reach for a Dream neem, weet hy wat die organisasie benodig om kinders breed te laat glimlag. Dit is vir hom deel van sy avontuur om kinders wat siek is te help, sê Robbertze.

Hy het slegs tydens die eerste drie dae en die laaste drie dae van sy fietstog voertuig-ondersteuning. Robbertze het twee jaar gelede sowat 1 000 km per fiets afgelê ten bate van Kindersorg Bloemfontein en Childline Free State.

Robbertze vertrek vandag van Bloemfontein af op sy fietstog van 20 dae. Hy ry dan na Dealesville, Hertzogville en in ‘n noordelike rigting tot by Sasolburg. Daarna gaan hy na Heilbron deur Oos-Vrystaatse dorpe soos Ficksburg en Clocolan, na Dewetsdorp en terug na Bloemfontein.

Hy sê dorpe in die Vrystaat is gelukkig nie duisende kilometers van mekaar geleë nie en hy kan daarom saans op dorpe slaap. Reach for a Dream in die Vrystaat is verantwoordelik om afsprake vir geldinsameling op dorpe te organiseer. Hy gaan ook op ‘n paar dorpe siek kinders besoek. “Ek gaan amper soos Kersvader ‘n droom aflewer. Ek gaan net nie met ‘n slee daar aankom nie, maar met my fiets.”

Robbertze sê sy trapfiets is ‘n kombinasie van ‘n bergfiets en ‘n padfiets. Daar is sakke aan weerskante van die trapfiets vir sy bagasie. – Christal-Lize Muller

 

 

 

 

 

No posts to display