Ná die besluit van die Mangaung-munisipaliteit om inwoners heffings te vra vir nie-werkende watermeters of vir eiendom sonder watermeters, kom daar nou foutiewe heffings voor op die rekeninge van inwoners met werkende watermeters.
Die munisipaliteit het in September ’n kennisgewing uitgestuur rakende die heffings, wat in Julie al in werking getree het, waarin die stadsbestuurder, Sello More, verduidelik die heffings is slegs van toepassing op nie-werkende watermeters en waar daar nie watermeters is nie.
“Dit word gedoen om kliënte te help wat voorafbetaal-watermeters geïnstalleer het, maar nie water-koopbewyse kan koop nie as gevolg van die stukkende meters,” het hy gesê. “Raadsbesluite oor vorige waterverbruiksheffings weens stukkende voorafbetaal-watermeters sal in ’n later stadium gekommunikeer word.”
Die implementering van die nuwe heffings is veral daarop gemik om inkomsteverlies weens onbeheerde watergebruik deur huishoudings sonder meters reg te stel.
Die tabel vir heffings:
| Tarief | Residensiële kliënte per maand | Nie-residensiële kliënte per maand |
| Basiese beskikbaarheidsheffing (BTW inklusief, maandeliks) | R 60,66 | R 1 346,71 |
| Vaste tarief gehef 12 kl (BTW inklusief, maandeliks) | R 322,23 | – |
| Vaste tarief gehef 15 kl (BTW inklusief, maandeliks) | – | R 590,49 |
| Totale maandelike heffing | R 382,89 | R 1 937,18 |
Volgens die munisipaliteit sal heffings verwyder word sodra meters herstel, vervang of geïnstalleer is. “Let asseblief daarop dat die vastetariefheffings verwyder en vervang sal word met werklike waterverbruiksheffings so gou as wat ’n nuwe meter deur ons tegniese departement geïnstalleer word.”
Hoewel hierdie stelsel geïmplementeer is, was daar huishoudings wat heffings ontvang het al werk hul watermeters.
DA-wyksraadslid Selmé Pretorius sê dit was vermoedelik ’n stelselprobleem. “Die metro het onderneem om die koste terug te skryf as daar ’n foutiewe heffing was. Indien inwoners wel funksionerende watermeters het of van gewone, konvensionele meters gebruik maak en dan waarneem dat hulle daarvoor ’n heffing op hul rekening ontvang, stel ek voor hulle maak kontak met die rekeningafdeling of hul wyksraadslid.”
Indien hierdie stappe reeds gevolg is, moet inwoners seker maak dat die regstellings aangebring is. “Ek het verskeie gevalle gehad waar die regstellings wel gemaak is, maar waar die maandelikse tarief weer gehef is.”
Pretorius het heelwat navrae hieroor ontvang. “Wat jammer is, is dat die Metro dit nie vooraf gekommunikeer het nie. Ek stel ook voor indien jou voorafbetaal-meter verwyder is omdat dit foutief is, moet inwoners gereeld met die metro opvolg oor die installasie van nuwe meters.”
Die implementering van die nuwe heffings is daarop gemik om inkomsteverlies weens onbeheerde watergebruik deur huishoudings sonder meters reg te stel, maar Pretorius meen nie dit is die oplossing nie.
“Dit kan wel tot voordeel van sowel die metro as die inwoners wees,” sê sy. “Die metro ontvang dan wel maandelikse betalings vir water waar geen werkende meter is, hoewel dit ’n probleem is omdat verbruik nie gemeet word nie. Inwoners behoort dan ook nie in ’n stadium ’n opgehoopte rekening ontvang nie en word dus ook in die proses beskerm.”
Die munisipaliteit raai mense wat watermeterfoute ervaar, aan om 0800 111 300 te bel, ’n WhatsApp-boodskap te stuur na 065 586 6261, of e-pos na enquiry@mangaung.co.za.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za






