Bloemfonteiners skitter by SA biathle-kampioenskap

0
Bloemfonteiners skitter by SA biathle-kampioenskap
RUFUS BOTHA

Atlete van Bloemfontein het Saterdag in Durban by die Suid-Afrikaanse biathle-kampioenskap waar atlete se veelsydigheid getoets word met aaneenlopende hardloop-, swem- en weer hardloopskofte, nie minder nie as ses titels gewen.

Die uitstekende Jamey-Sue Vermaas (Hoër Meisieskool Oranje), was oudergewoonte op haar stukke. Vermaas, wie se veelsydigheid geen perke ken nie, het in die jeug-B-afdeling vir meisies met ‘n haastige tyd van 10:07 geseëvier.

Vermaas is na die byeenkoms as Suid-Afrika se Junior biathle-atleet van die Jaar aangewys en sy het óók die eerbewys ontvang as mees belowende biathle-atleet onder die skoner geslag in die land.

Dit sluit alle ouderdomsgroepe in. Haal egter jou hoed af vir haar span-, oefen- en skoolmaat van Oranje, Mizan Viljoen. Sy het ‘n skitterende tweede plek in Vermaas se wedloop losgehardloop en geswem en was met ‘n kookwatertyd van 10:16 nege sekondes agter Vermaas.

Die derde atleet, Caelin van der Westhuizen (Gauteng, 10:21), het nie veel van ‘n bedreiging ingehou vir die Oranje-meisies nie. Vermaas se ma, Rika (10:50), het die B-afdeling vir meestersvroue loshande gewen toe sy Jackie Navarria (Gauteng, tweede, 11:21) druipstert huis toe gestuur het.

Heinrich Bruhns (Hoërskool Grey-kollege) het in die jeug-B-afdeling vir seuns die titel verower na hy in ‘n taai stryd met Wicus Saunders (Ooskaap) gewikkel was. Bruhns (9:04) het uiteindelik die einde drie sekondes voor Saunders (9:07) bereik. Suid-Afrika se voorste tweekampatleet, Teresa Richards het in die afdeling vir seniorvroue ‘n klinkende oorwinning in 14:10 behaal.

Sy het die Gautenger, Nerissa van der Walt (14:32) met sowat 120 meter kafgedraf en geswem. Marius Wessels het seker gemaak die senior mans-titel keer ook terug Rosestad toe nadat hy dié wedloop in 13:44 baasgeraak het.

Hy was bykans vyf minute voor die silwermedaljewenner, Tiaan Rossouw (Gauteng, 18:36). Onder die kleinspan het Donna le Roux (Laerskool Oranje) en Chris-Marie Alexander ook vir die Vrystaat gewen.

Le Roux (2:47) was genadeloos. Sy het gewen in 2:47 en het vir Amber Herman (Ooskaap, 2:57) met sewe sekondes afgeslag. Dit is ‘n reuse-oorwinning oor só ‘n kort afstand.

Alexander van Trompsburg het in die E-afdeling vir jeugmeisies eerste geëindig in ‘n tyd van 4:39. Sy het sodoende die naaswenner, Emily Raath (Ooskaap, 4:41) met twee sekondes getroef.

No posts to display