Bloemfonteiners op pad na Londen vir Combat Tang Soo Do

0
2457
Malcolm, Kevin en Leyton Markram, KJN Liza Coetzee-Hugo en Eben Swanepoel

‘n Groep ‘gevaarlike’ Bloemfonteiners gaan Suid-Afrika op 4 en 5 Augustus 2018 op die Wêreld-Tang Soo Do-kampioenskap in Londen verteenwoordig.
Combat Tang Soo Do,’n Koreaanse vorm van krygkuns, is gebaseer op die antieke verweerkuns van Korea se krygsridders. Dié stelsel, wat alle afdelings van gevegkuns soos fisieke konfrontasie dek, is een van die volledigste in die wêreld. Dit sluit in grepe, gooie en wegkom van vashou-grepe asook die gebruik van knieë en elmboë, kragtige handhoue en verwoestende skoppe. Die gevegkuns sluit ook wapenopleiding in, wat al die gewilde, moderne en tradisionele wapens dek.
Die span wat op pad is na Londen, staan bekend as die White Tigers en die lede is Adriaan Benedictus Joubert, Jody Verwey, Amelda Heila Johanna Greyvenstein, Lanelle Newton, Henco Vorster, David Christian le Roux, Michael Anthony le Roux en Christian Stephanus Cloete. Maria Louis Birk, Matthew Jordan Giles, Eben Swanepoel, Christiaan Stephanus van Niekerk, Kevin Markram, Leyton Markram, Malcolm Markram, Monique Rautenbach en Cornelius Jacobus Faber van Niekerk.
“Die finale span is verlede jaar op 9 September 2017 gekies by Wits Universiteit. Studente moes goud, silwer of brons verower het en hulle moes op die SA’s in Maart 2017 goud, silwer of brons verower het asook een ander toernooi soos die Vrystaatkampioenskap of die Laeveldkampioenskap bygewoon het en daar ook goud, silwer of brons medaljes verower het,” verduidelik KJN Liza Coetzee-Hugo, meester-instrukteur van die White Tigers.
Ses van die spanlede is swart belde en drie staan ‘n kans om tot die senior nasionale span en een tot junior nasionale span gekies te word.
Lanelle Newton, Henco Vorster, Faber van Neekerk en Kevin Markram was in 2015 in Las Vegas en het daar goue medaljes verower. Hulle is die wêreldkampioene wat nou hul titels in Londen gaan verdedig.
Dit blyk dat dié sport baie gewild is. Kevin Markram meen die krygkuns is lankal nie meer net ‘n sport vir hom nie, maar deel van sy lewe en leefwyse. “Krygkuns begin altyd by die fisieke goed en daarna kom jy baie vining agter dat dit soveel meer is en soveel meer beteken. Op die ou einde, nog voor ek my oë kon uitvee, was Combat Tang Soo Do deel van my lewe en kon ek dit net nie los nie,” sê hy.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za