Bloemfonteiners met Michael Masote-prys vereer

0
1138

Die twee jong Bloemfonteinse musikante wat onlangs aan een van die land se voorste jeugmusiekkompetisies deelgeneem het, het elk die Michael Masote-prys in die kompetisie ontvang.
Die 16-jarige tjellis, Ashlinh Grobbelaar, van die Hoërskool Sentraal en die 17-jarige Teboho Jabu Sesing, ook 'n tjellis van die Hoërskool Navalsig, was deel van 'n groep van 19 van die mees talentvolle jong Suid-Afrikaanse klassieke musici wat van 13 tot 17 Oktober meegeding het in die Nasionale Jeugmusiekkompetisie in Kaapstad.
Die Bloemfonteinse deelnemers is studente van Tilla Henkins en Anmari van der Westhuizen.
Die Michael Masote-prys van 
R2 000 is aan Grobbelaaar en Sesing (17), asook Shannon Thebus (19) van Grassypark (Franse horing) en klarinetspeler Féroll-Jon Davids toegeken as die mees belowendste kandidate in hul onderskeie afdelings.
'n Student van die Universiteit van Kaapstad, Sakhile Humbane (19), is as die algehele wenner van vanjaar se Nasionale Jeugmusiekkompetisie aangewys.
Uit die ses finaliste is die ander kategoriewenners Henley Jun (18) van Somerset-Wes op klavier en marimbaspeler Emilio February (17) van Elsiesrivier, Kaapstad. February het ook R2 500 gewen vir die beste uitvoering van 'n Suid-Afrikaanse komposisie. Elkeen het R5 000 en 'n silwermedalje ontvang.
Die naasbeste pryse van R3 000 en bronsmedaljes is toegeken aan Rhiyaan Smith (18) van Goodwood, Kaapstad (klavier), en Nicholas Bruiners (17) van Mowbray, Kaapstad (viool). Daar was twee naaswenners in die blaasinstrumentafdeling. Hulle was fluitspeler Amy Stessl (17) van Craighall, en klarinetspeler Stephen Maycock (17) van Houghton in Johannesburg.
Die UNISA Skadujurie-prys van R3 000 vir die beste semi-finalis wat nie 'n finalis was nie, het na Féroll-Jon Davids (19) van McGregor gegaan.
"Sedert die bekendstelling van die kompetisie in 1984 het die vlak van spelers met rasse skrede verbeter," sê Michael Maas, die voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekstigting. "Dit is 'n duidelike aanduiding van 'n gesonde en groeiende kultuur van klassieke musiek regoor Suid-Afrika."