Bloemfonteiners korrel raak

0
718

Bloemfontein Praktiese Skietklub se lede het baie goed met die pasafgelope Vrystaatse (IPSC) praktiese skietliga-byeenkoms op die Excalibur-baan in Welkom gevaar. Nege goue medaljes is deur lede van die klub in verskillende afdelings verower. Daar is ook vyf silwer- en twee bronsmedaljes Bloemfontein toe gebring.  In die ope-afdeling het David Coetzee silwer, algeheel verwerf. In die produksie-afdeling het die Bloemfonteiners ook baie goed gevaar. Johan Hattingh het goud algeheel verwerf, terwyl Gerhard van Niekerk brons algeheel en goud in die senior-kategorie verwerf het.

In die C-klas het Callie Buitendag goud ingepalm, terwyl Shaun Odendaal dit in die D-klas vermag het.  Gerhard Smal het twee silwermedaljes in die senior-kategorie en D-klas verwerf, terwyl Armand Smal goud in die junior kategorie en brons in die D-klas verower het.

In die standaard-afdeling het Peet Delport twee goues in die super senior-kategorie en B-klas Bloemfontein toe gebring.
LM van der Merwe het in dieselfde afdeling silwer in die D-klas verwerf, terwyl Rika Nel goud in die vroue-kategorie en silwer in die D-klas verower het.  Hierdie lede het die naam van die klub voorwaar hoog gehou deur in verskeie gevalle meer as een medalje te verower.

Belangstellendes in die sport kan vir Johan Hattingh by
082-553-4954 skakel vir meer inligting.