Die 97ste Comrades-marathon het die afgelope naweek plaasgevind en ’n paar dapper Bloemfonteiners het die 85,91km lange wedloop aangedurf.
Bloemfontein Courant het met ’n paar van hulle gesels om uit te vind hoe hul ervaring was en hoe lank dit hulle geneem het om die marathon te voltooi.

Jaco Ebersohn – 6 ure en 55 min: “Dit was ’n baie goeie Comrades gewees met verskriklik baie ondersteuners langs die pad. Dis wat mens deur die moeilike tye dra. Die op-roete is nooit maklik nie, maar dit bou karakter en jy leer iets van jouself wat jy nooit geweet het nie. Elkeen ervaar dit anders, maar niemand is ooit spyt dat hulle die wedloop aangepak het nie.”

Marissa Laing – 9 ure en 46 min: “Vir my was dit ’n ongelooflike ervaring gewees. Die mense en ondersteuning langs die pad dra ’n mens regtig deur die wedloop! ’n Mens gaan maar deur baie emosies op die dag, maar om eindelik oor die eindstreep te kan kom is die moeite werd! Die wedloop self was vir my baie hard gewees – daardie opdraendes was iets vreesliks gewees, maar alles was die moeite werd.”

– 10 ure 41 min: “Dit was ’n ongelooflike ervaring wat ek dink elke hardloper ten minste eenkeer in hul leeftyd moet beleef. Die atmosfeer is uit ’n ander wêreld. Dit was baie taai, maar definitief die moeite werd. Dit was lekker om my vrou en seuntjie, sowel as vriende, langs die pad te sien. Baie maande se oefening en voorbereiding kom op een dag mooi by mekaar en ek was gelukkig dat als mooi uitgewerk het vir my op dié dag.”

Johannes Campher – 11 ure en 34 min: “My eerste wedloop was ook ’n op-wedloop. Ek het 4 op- en 4 af-wedlope voltooi oor 39 jaar. Al my op-wedlope was vinniger as my af-wedlope. Op is baie moeilik met amper 1800m se klim in hoogte, maar dit maak baie minder seer as die af-wedloop. Dit bly maar ’n groot ondervinding en voorreg om Comrades te kan draf en te voltooi. Dit is my agtste medalje. Het my eerste in 1985 gekry (silwer in 7h14) toe ek 20 jaar oud was. Nou is ek 59 jaar oud!”

Magdaleen Kemp – 11 ure 26 min: “Ons van Free State Pace Setters was 4 uit 16 oor die hele land wat die geleentheid gekry het om die pas aan te gee in die wêreld se grootste ultra-marathon. Dis ’n geweldige groot voorreg en verantwoordelikheid om so iets aan te pak. Ek het steeds nie vandag woorde om te beskryf hoe ongelooflik dit is om in kameraderie te hardloop en mense te bemoedig tydens die wedloop nie. Hulle absolute vertroue in jou om hulle in Pietermarmaritzburg aan te bring is verstommend. Dit neem ekstra energie maar om terug te gee aan die gemeenskap tydens so ’n groot wedloop is iets heeltemal anders en besonders. Dit was ’n warm en harde dag maar ook ’n fantastiese ervaring om ’n magdom altete agter jou vlerk te hê en te weet jy is verantwoordelik om hulle betyds oor die lyn te neem. Nkosinathi Singonzo, Tumo Mokhatla en Moss Seabo het ook die massas suksesvol in die stadion in gebring.”

