Bloemfonteiners doen dit self

0
625
Inwoners van Hilton in Bloemfontein besig om takke wat mense se uitsig versper af te saag.

Inwoners van die Rosestad is moeg om terug te staan en te kyk hoe die stad agteruitgaan. Baie van hulle het besluit om in te spring en self te begin regmaak met die hoop dat ander dieselfde sal doen. Inwoners van Hilton in Bloemfontein het al ses jaar gelede begin om die parkie oorkant hul werksplek te begin opknap.
“Dit was gebruik as ‘n vullishoop en ons het besluit om dit self skoon en netjies te maak. Ons het bome en plante geplant en nou hou ons dit in stand,” het een van die inwoners aan Bloemfontein Courant gesê.
Sy verduidelik dat hulle ook nou begin het om boomtakke wat motoriste se uitsig versper, af te saag. “Daar staan aan albei kante karre geparkeer en dan hang die takke net daar. Ek voel dit kan werklik tot lewensverlies lei. Dit is belangrik vir my om as iets nie gedoen word nie, dit eerder self te doen.”
Sy het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle alles rapporteer aan die betrokke departemente maar niks word gedoen nie. Soms kom die munisipaliteit in die nag om van die goed waaroor gekla word, reg te maak.

Israel Lephoi en Marius Brits besig om ‘n slaggat op te vul.

Dit kom nadat inwoners van Universitas-Rif twee weke gelede sake in eie hande geneem omdat hulle al vir meer as vier maande lank sukkel met slaggate in hul buurt.
Petrus Labuschagne, ‘n lid van die groep wat die slaggate begin regmaak het, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle al baie versoeke aan die munisipaliteit gerig het om die slaggate reg te maak, maar niks het daarvan gekom nie. Hulle het toe maar besluit om die inisiatief te neem en self aan die werk gespring.
“Ons sien nou al baie lank hoe mense deur ‘n spesifieke gat in Koos van der Waltrylaan ry. Motors verloor hul bande op die pad. Dink net wat so diep gat aan ‘n motorfiets kan doen,” sê Labuschagne.
“Ons het ons bes gedoen omdat ons weet dat mense in hierdie paaie ry en draf en dat die slaggate gevaarlik is vir hulle. Mense moet bymekaar kom en mekaar help sodat ons meer in die stad gedoen kan kry,” sê Israel Lephoi, wat ook gehelp het. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za