Bloemfonteiner vertrek na Survivor

0
4135
Chané Mynhardt. PHOTO: CHANNEL 24

‘n Bloemfonteiner en oudleerling van Eunice Girls’ School gaan aan Survivor deelneem.

Chané Mynhardt, ‘n administratiewe klerk in Bloemfontein vertrek eersdaags na die Filippyne om aan die splinternuwe reeks van dié realiteitsprogram deel te neem.

Mynhardt beskryf haarself as ‘n tipiese vrou wat daarvan hou om versorg te word, maar dit beteken nie dat sy nie haar hande sal vuilmaak nie. Sy is immers ‘n boeremeisie.

Ter voorbereiding vir die program het sy na YouTube gekyk oor hoe om ‘n kokosneut oop te breek.

Sy beskou haar oorbelle as haar geheime wapen en dra hulle dus daagliks.

Wat haar strategie betref, gaan sy waarskynlik eers as die hulpelose blond optree om dan later “gelyk te breek” met ander deelnemers.

Soos gewoonlik, is Nico Panagio die aanbieder en sal 39 dae saam met die deelnemers op die Filippynse eilande deurbring.

Survivor SA: Philippines begin op Donderdag 3 Mei om 19:00 op M-Net.

JERETHA OOSTHUIZEN