Bloemfonteiner red skilpaaie in Angola

0
Bloemfonteiner red skilpaaie in Angola

Maricelle Botha

Toe Lynette Jordaan einde verlede jaar ingestem het om ’n ekskursie na Angola mee te maak, het dié Bloemfonteinse tandarts min gedink dat dit iets sou wees wat ’n daadwerklike indruk op haar sou maak en haar vir altyd sou by bly.  “Een van my ou varsity vriende in die Kaap het my eendag gebel en vertel van ’n bewaringsvakansie wat die bewaring van die Olive Ridley-seeskilpad se neste aan die Angolesekus behels.   Ek het ingestem en so het ons in November die langpad aangedurf,” vertel sy.

Jordaan en agt ander Suid-Afrikaanse vroue het besluit om ’n vroue 4 x 4 toer na Angola se Namibe-provinsie te onderneem en dit alles in die naam van bewaring. Die tog van 6 222km oor sandpaaie waar landmyne sedert die grensoorlog met Suid-Afrika nog begrawe lê, het hulle gelei tot by Flamingo Lodge van waar die hele projek gekoördineer is. Die Angolese suidkus is een van die min plekke in Afrika waar die Olive Ridley-seeskilpad nesskrop. Jordaan vertel dat daar tans ’n groot probleem is ten opsigte van skilpadeiers wat nie uitbroei nie.

“Dit is een groot bose kringloop. Omdat die Suid-Afrikaanse viswaters so uitgeput is, was robbe genoodsaak om noord te migreer na warmer waters agter vis aan. Daarby het die uitdunningsgetalle van robbe in Namibië ook aansienlik gedaal, wat beteken ’n oorbevolking van robbe beteken wat dan ook genoodsaak is om noord agter kos aan te trek. Nou het het jakkalse begin om die robbe te vang en intussen ook agtergekom dat hulle die skilpadeiers kan eet.” Sy vertel dat sommige Angolese ook glo dat daar medisinale waarde in die eiers is.

“Ons het saans omstreeks 20:00 begin om sowat 30km strand langs die lodge te patroleer. Dit is dan wanneer die skilpaaie kom om hul eiers te lê. As ons spore gesien het, het ons dit tot by die nes volg. En soos die wyfie die eiers in ’n spesifieke orde lê, word dit gevang en in ’n koelboks met vars-gegrawe warm sand gesit.”

Jordaan vertel dat dit belangrik is om die eier in dieselfde posisie as wat dit gelê word in die koelboks te plaas, want die geringste versteuring sal verhoed dat die eier uitbroei. Dan het hulle nuwe neste by die lodge geskep waar die eiers veilig kon uitbroei. Hulle het selfs gevestigte neste met draan bedek in ’n poging om die neste te bewaar. En sal sy dit weer doen? “Verseker. Dit was ’n lewensveranderende ervaring.” vertel sy.

No posts to display