Bloemfonteiner onder top-40 sexyste mans

0
318
Falder Munn, 'n argitektuurstudent aan Kovsies, is 'n finalis in Sarie se top-40 mooiste mans.

Die gewilde vrouetydskrif, Sarie, het pas die name van 40 van die mooiste mans in Suid-Afrika aangekondig in Sarie se jaarlikse kompetisie waar die publiek die geleentheid kry om vir hul gunsteling- sexyste man te stem.
Die 40 mans bestaan uit bekende sportsterre, sangers en akteurs en tot sy groot verbasing, val Mnr Hartenbos 2017 in die top-40.
Falder Munn, ‘n argitektuurstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, is geheel en al uit die veld geslaan met sy nominasie. “Ek is baie opgewonde en persoonlik is dit vir my ‘n groot prestasie om tussen al die bekende sterre benoem te word,” het hy gesê.
Munn is outomaties as finalis gekies omdat hy in 2017 met die gesogte Mnr Hartenbos-titel weggestap het.
Hy voel sy grootste kompetisie is mede-Bloemfonteiner, Brendan Peyper, juis omdat hy nogal Munn se rolmodel is. Hy stel dit wel duidelik dat al die ander finaliste soos Bobby van Jaarsveld, Jo Black, Bok van Blerk en Emo Adams ook groot kompetisie is.
As hy nie swot nie, besoek Munn graag die gimnasium en werk ‘n boks-sessie in om sy lyf in ‘n goeie toestand te hou.
Munn voel elkeen beskik oor unieke eienskappe. Hy beskou homself as iemand wat almal heeldag en aldag motiveer. “Looks maak nie vir my saak nie. Ek glo ‘n man kan ‘n wonderlike persoonlikheid hê, hy kan sexy wees en terselfdertyd ‘n nederige mens wees.”
As hy sou wen? “Ek sal natuurlik uit my vel wees. Dit gaan nie vir my oor wen nie; dit gaan vir my oor iets groters. Dit sal natuurlik ook ‘n hupstoot vir my selfvertroue wees. Dit sal my motiveer om die jonger generasie te motiveer om enige uitdaging aan te pak.”
Die wenner van die Sexyste Man in SA-titel word vandag deur Sarie aangekondig.

JERETHA OOSTHUIZEN

Jeratha@mahareng.co.za