Bloemfonteiner byna oornag sukses

0
1319
Photo: Get It Bloemfontein

’n Jong moeder van Bloemfontein, Cathy de Lange, het oornag bekend geraak nadat sy ’n video oor haar mammalyf op Facebook geplaas het. Sy was reeds ’n blogger vir Mammas24/7, die grootste ondersteuningsgroep vir ma’s en oumas op Facebook.

Sy beskou dit as ’n fantastiese platform en geniet elke oomblik daarvan. Sy is deesdae ook ’n vlogger (videoblogger) – iets wat sy nog meer geniet. Sy het binne enkele dae beroemd geraak toe haar video, waar sy oor haar lyf praat, op Facebook gedeel is.

Die idee het by haar opgekom toe sy ’n silhoeëtfoto van ’n vrou se lyf nadat dié ’n kind gehad het, geplaas het. As vlogger deel sy haar lewe met die die res van die mammas daar buite. Sy wou nooit ’n mommyblogger word nie, maar nou praat sy juis oor die dinge waaroor nooit gepraat word nie; dinge wat ’n ouer raak.

De Lange is ma van drie dogtertjies waarop sy baie trots is. “Ek is verskriklik lief vir hulle,” vertel sy. Duisende het al dié video gesien, en die reaksie in onbeskryflik. “Ek skryf uit my hart uit.” Sy skryf oor wat haar gelukkig, ongelukkig of kwaad maak.

Dit is vir haar lekker om uit haar hart uit te praat en haar emosies neer te skryf. “Ek het ʼn paar emosies beleef na die video viral gegaan het. Dit het my nederig gemaak. Dit het my opgewonde gemaak! EN dit het my hartseer gemaak. Hartseer om te weet dat daar soveel vroue is wat onseker is oor hulself en wat vergeet het hoe om vir hulself lief te wees, wat vergeet het dat hulle pragtig en kosbaar is.

“Mense móét praat oor hoe hulle voel en besef hulle is nie alleen nie. Iemand is nie sleg net omdat hy of sy ’n slegte oomblik of twee beleef nie.”  – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za