Bloemfonteiner beïndruk op TV

0
220
Ruan Meyer en Qiniso Van Damme in die TV-program, The Bachelorette SA

Die Bloemfonteinse Bachelor, Ruan Meyer, kan nie uitgepraat raak oor sy verbasing toe hy die eerste-indruk-roos ontvang het van die pragtige Bachelorette, Qiniso van Damme tydens hul eerste interaksie op die M-Net-program, The Bachelorette SA, nie. Dié uitsending se eerste episode het op 11 Februarie 2021 plaasgevind.

Meyer vertel dat hy dit glad nie verwag het nie. “Ek was stomgeslaan,” sê hy. “Wanneer jy ‘n roos ontvang red dit jou ook van uitskakeling, so dit het my baie gelukkig gemaak.”
Meyer sê hy is beslis geïnspireer deur die roos wat hy van Van Damme ontvang het, veral nadat sy vir hom gesê het hy verdien die roos omdat hy met haar gesels het sonder enige pretensie.

Meyer sê dit het definitief ‘n glimlag op sy gesig gesit en hy vertel, “The Bachelorette SA is tot dusver baie lekker. Vir dié wat nie weet nie, Qiniso het ‘n sin vir humor wat skrik vir niks. Meeste van ons interaksies tot dusver was gepak met grappe en ‘n gelag.”

“Die Bachelorette het my siening oor liefde net meer bevestig. Ek dink dit is nie altyd ‘n maklike pad om liefde te vind nie, maar dit is wel die moeite werd wanneer jy die pad saam met iemand kan stap.”

Hy vertel hoewel daar baie mans is wat dieselfde vrou die hof maak, hy goed oor die weg kom met hulle. “Die ouens is ‘n aantreklike klomp wat definitief die kompetisie moeilik maak, maar tog is meeste van hulle nederig en plat op die aarde, wat dit weer baie maklik maak om van hulle te hou.”

Meyer voel dat om op televisie te verskyn dalk nie vir almal is nie, hoewel hy dink almal sekerlik een of ander tyd in hul lewe gewonder het hoe dit sou wees. Hy is mal oor die feit dat hy die ondervinding met mense na aan hom kan deel. “Hulle kan saam lag oor die interessante dinge wat ons op die program doen.”

Hy voeg by dat hy die feit dat Qiniso met geen oordeel na ‘n mens kyk nie, waardeer. “Dit is ‘n eienskap van Qiniso waarvan ek baie hou.”

Van Damme het Meyer beskryf as iemand wat vriendelikheid uitstraal en wat saam kan lag, iets wat vir haar uitstaan.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za