Bloemfontein: Verdagte weer in hof in verband met Valke lid se moord

0
1256
Die polisie in die Vrystaat volg alle moontlike leidrade op wat tot die arrestasie van nog verdagtes kan lei, nadat ‘n lid van die Valke sowat twee weke gelede by sy huis doodgeskiet is.

Die 52-jarige Qeya Tshabalala is op 24 Mei by die huis in Tau straat in Rocklands deur drie mans oorval en geskiet. Tshabalala het na bewering teruggeskiet en een man gewond.

Hy het egter later aan sy wonde beswyk, terwyl die aanvallers met sy dienspistool, werksfoon en motor gevlug het. Die voertuig is later verlate in Dewetsdorp gevind.

Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo sê een van die verdagtes, Sprinkaan Maema is ‘n dag na die moord aangekeer. Hy het vandag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn, waar die saak tot 13 Junie uitgestel is.

Mbambo, sê dat hulle eersdaags fotos van moontlike verdagtes gaan sirkuleer om te help met die polisie se ondersoek.

Tshabalala, wat aan die eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad verbonde was, is die afgelope naweek in sy tuisdorp, Qwaqwa ter ruste gelê.

Die waarnemende hoof van die Valke, Yolisa Matakata, het vroeër die moord ten sterkste veroordeel.

Mark Steenbok / OFM-nuus