Bloemfontein Striders se Tarentaal-wedlope by Boeremark

0
2633

Die Tarentaal-wedlope, die laaste padwedloop en pretdraf van Bloemfontein Striders Marathonklub hierdie jaar en wat deur Imperial GM Bloemfontein geborg word, vind Saterdag van 06:00 af plaas by die Lagenhovenpark Boeremark op die hoek van Jochem van Brugen en Boerneef-strate in Elias Motsonaledi-straat (Bankovs Boulevard).
Die wedloop oor 21.1km begin om 06:00 en die pretdraf oor 5km begin om 06:30.
Die wedloop staan eintlik as die Imperial GM Bloemfonten – Langenhovenpark-wedloop bekend, maar vanjaar is die tema Tarentale, wat kenmerkend van Langehovenpark geword het. Dié voëls word ook op die unieke medaljes vir die wedlope uitgebeeld. Verlede jaar was dit die drie bekende koppies van Langehovenpark, wat op die medaljes uitgebeeld is, en aanstaande jaar sal ’n nuwe tema gebruik word.
Daar is prysgeld vir die eerste drie plekke vir mans en vroue in die ope-afdeling. Kategorie-wenners ontvang goue medaljes. Al die deelnemers, wat een van die twee wedlope voltooi, ontvang medaljes.
Voornemende deelnemers moet gou spring om in te skryf, want verlede jaar was 392 deelnemers in aksie en vanjaar word 480 verwag.
Vooraf-inskrywings vind Vrydagmiddag tussen 16:30 en 18:30 by Hek 12 van die Boeremark plaas. Dieselfde middag/aand vind die gewilde Boeremark se Aandmark plaas met onder andere Gerrie Pretorius as kunstenaar.
Saterdag kan deelnemers nog voor die wedlope om 05:00 inskryf. Tydelike lisensienommers kos R20.
Rekordtye is verlede jaar deur die ope wenners, Samuel Segoaba van Transnet (1:07.25) en Annah Moeketsi voorheen van Escom en nou van Transnet (1:28.19), opgestel.
Saterdag bied Imperial GM toetsritte aan in hul nuwe Chevrolet Trailblazer.