Bloemfontein somatologie student wen goud

0
373
Chazney Jacobus by die Nasionale Worldskillskompetisie in Umhlanga. FOTO: VERSKAF

Chazney Jacobus, ‘n tweedejaar Somatologiestudent aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), het ‘n eerste plek in die Nasionale Worldskills-kompetisie verower. Sy het die Vrystaat in Camelot, Umhlanga, verteenwoordig en in die Nael- en Skoonheidstegnologie-kategorie van die kompetisie deelgeneem.

By die kompetisie het sy teen sewe ander mededingers uit die verskillende provinsies te staan gekom. Om te wen, is daar van hulle verwag om ‘n toetsprojek binne ‘n sekere tyd te voltooi. Deel van die toets het ‘n paar gesigbehandelings, pedikure, grimering en warmklipmassering ingesluit. “Daar is sekere standaardprosedures wat bereik moes word terwyl ’n behandeling gedoen word. Jy moes jou kliënt op ‘n spesifieke manier benader en ‘n kliëntekonsultasie doen wat van uiterste belang was, terwyl jy die behandeling uitgevoer het,” sê Chazney.

“Ek was geskok toe ek gewen het, bloot oor die hoeveelheid kompetisie waarmee ek moes meeding. Deelnemers van Kaapstad en die Gauteng-streke was bo-aan hul ‘game’! Ek is dankbaar vir die vaardighede waaroor ek beskik en sien uit na die geleenthede wat wag op my,” vertel sy.

Sy het dit reggekry om by die kompetisie uit te staan deur die raad te volg wat haar fasiliteerder aan haar gegee het: “Doen net wat jy geleer is, moenie na die ander mededingers kyk nie, en fokus op jouself!”.

Sy vertel ook dat sy die eerste keer van die kompetisie gehoor het toe sy in 2020 ‘n student aan die Motheo TVET Kollege was. “Die kompetisie is die afgelope twee jaar baie keer uitgestel weens die pandemie. Ek was bevoorreg genoeg om die Vrystaat by die nasionale kompetisie te verteenwoordig saam met Ambrochy Hiles (Grafiese Ontwerp) en Kelebogile Pam (Haarkappery) van die CUT Bloemfontein-kampus.”

Volgens Chazney organiseer WorldSkills elke tweede jaar die WorldSkillskompetisie. “Met meer as 80 lede werk hulle saam om vaardigheidsbewustheid onder jongmense te verhoog, internasionale vaardigheidstandaarde te ontwikkel, navorsingsresultate te deel, beste praktyke uit te ruil en die waarde van vaardighede vir ekonomiese groei en persoonlike sukses te bevorder.

“Ek het ‘n passie vir wat ek doen. Ek hou daarvan om met mense te werk om welstand in hul lewens te bring. Dit dryf my. Dit is wat my motiveer om soggens op te staan – om ander goed te laat voel oor hulself,” sê sy.

Tree in verbinding met haar deur ‘n e-pos te stuur aan Chazneyj@gmail.com.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za