Bloemfontein Skrywersvereniging beplan groot jaar vir 2016

0
927

Die nuwe jaar beloof om vele hoogtepunte op te lewer vir die Bloemfontein Skrywersvereniging (BSV). Die Nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 word weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat – hierdie keer met ’n hele R18 000-prysgeld. Die Nasionale BSV-Slypskool vind plaas op Saterdag 20 Augustus 2016 met die dinamiese digter, resensent en akademikus, prof. Joan Hambidge, as BSV-Slypskool 2016-aanbieder! Die slypskool word gedeeltelik geborg deur Afriforum.
Buiten hierdie hoogtepunte is daar ook twee BSV-publikasies waarin lede en skryfwedstrydwenners se skryfstukke jaarliks in druk verskyn. Daar is ook die gewone agt jaarlikse byeenkomste waar BSV-lede vanoor die hele land deur middel van skryfopdragte, interessante sprekers en voorlees-en-slypsessies (vir diegene wat geografies naby bly en byeenkomste kan bywoon) hul skryfvaardighede voortdurend kan slyp en selfs op die prysaand vir uitsonderlike prestasies vereer kan word. Hou gerus die BSV-webwerf en BSV-Facebook dop vir die jaarprogram en meer inligting.
Digters en skrywers word genooi om gerus nou reeds die slypskooldatum op die nuwe 2016-kalender in rooi te omkring, want, gegewe die profiel en gewildheid van prof. Joan Hambidge as slypskoolaanbieder, gaan die beskikbare slypskoolplekke beslis vlieg! Hou gerus ook die BSV-webwerf dop vir 2016 se BSV-Skryfwedstrydonderwerpe. Weens veranderde skoolsillabusse en om skole genoeg tyd vir deelname te gee, het die BSV-bestuur in November reeds tydens ’n tema-aand die skryfwedstrydonderwerpe gefinaliseer vir 2016 se skryfwedstryd. Dit sal binnekort op die BSV-webwerf bekend gestel word sodat leerders, studente en volwasse deelnemers rustig reeds in die Desembervakansie (op die strand) kan begin skryf aan hul wenverhale of -gedigte.