Die Departement van Onderwys in die Vrystaat veroordeel ‘n sosialemedia-boodskap wat versprei word dat sommige skole naby aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein môre deur betogende studente, ontwrig moet word. Die boodskap is deur ‘n student, wat die #FeesMustFall-inisiatief ondersteun, uitgestuur.
Onderwyswoordvoerder, Howard Ndaba, sê dit is kommerwekkend dat dié klaarblyklike dreigement gemaak word wanneer leerders met voorbereidings vir hul eindeksamen besig is. Volgens Ndaba word Grey-kollege en HTS Louis Botha in dié boodskap genoem. Hy sê die departement beskou dié poging, indien dit sou gebeur, as ‘n ernstige kriminele oortreding. Die departement en polisie is op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas.
Skole werk nou saam met die polisie en sal seker maak dat leerlinge en leerkragte veilig is. Ndaba sê indien die skole ontwrig word, sal dit neerkom op boewery. Leerlinge word ook ontneem van hulle grondwetlike reg om onderrig te ontvang.
Volgens Ndaba sal Grey-kollege, wat ook naby die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus geleë is, môre normaal voortgaan. Hy vra ouers, kinders en leerkragte om nie paniekbevange te raak nie en gee sy versekering dat owerhede sal toesien dat skole te alle tye veilig is. – Christal-Lize Muller