Bloemfontein se ystervrou wen weer

0
679
Rufus Botha

Daar is nie keer aan Hanneke Dannhauser, wat nou al bekendheid verwerf het as Bloemfontein se ystervrou en selfs die Rosestad se eie GI Jane nie.

Dannhauser, het Sondag by die tweede byeenkoms van die 2015 Jeep Warrior-reeks haar tweede oorwinning in die elite-vroue wedloop beklink. Sy het oor berge en dale in Fourways (Johannesburg) die moeilike hindernisse en langafstand-hardloop goed baasgeraak en in ‘n uitmuntende 1:28:16 die eindstreep oorgesteek.

Sy het die tweede atleet in die elite-vroue-afdeling, Jetaime Ribbink (1:39:43) met meer as tien minute afgeslag. Die derde vroue in die afdeling, Carina Marx (1:52:05) was die spreekwoordelike seemyl agterweë gelaat.

Wat Dannhauser se vertoning groot aansien verleen is dat sy algeheel sesde geindig het in die elite-wedloop en dit sluit sowat 70 mans in. Sy was boonop minder as tien minute agter Louis Smit (1:19:54) wat die derdeplek in die elite-manswedloop ingeneem het.

Thomas van Tonder was die algehele wenner in 1:14:46.