Bloemfontein se opgeleide Ninja-vegters

0
Bloemfontein se opgeleide Ninja-vegters

GEORG VAN ECK

“Vegters van die Ninja Suid-Afrika se Bloemfonteinse dojo (skool) trek op ’n landgoed op die walle van die Modderrivier net buite Bloemfontein saam vir ’n oefenkamp.”
Dit is die boodskap wat Courant van Sensei David Field, ’n vierde dan uit Wallis in Brittanje, ontvang het. Hy is die stigter van Ninja SA-Gevegskuns (Ninja SA – Combat Martial Arts) en by nadere ondersoek is gevind dat Ninja SA reeds in 2006 gestig is en spog nou met dojo’s oor Suid-Afrika en in die Verenigde Koningkryk. Sensei David, wat in verskeie gevegskunste gekwalifiseer is, gee ook die versekering dat NSA-styl ontwikkel is vir klipharde gevegte en dat dit geensins bloot ’n sportsoort is nie.
Dit is ’n praktiese selfverdediging-stelsel wat die beoefenaars van Ninja Suid-Afrika die vermoë gee om hulle doeltreffend teen geweldadige aanvalle te kan verdedig.
Die NSA-styl is maklik om te leer. Die tegnieke sluit bedekte aanvalle, stuit- en breek-bewegings, gooie, gevegte op die grond, veelvuldige aanvalle en die gebruik van moderne wapentuig in.
Hoewel NSA-styl maklik is om te leer, word ’n gestruktureerde metode van opleiding gevolg. Volgens Sensei David is die Ninja SA-sisteem modern en het dit aangepas by die hede, maar die wortels van die styl kan steeds in die verlede (tradisionele) gevind word.
Die NSA-dojo’s skep ’n warm en vriendelike atmosfeer en almal is welkom wat belangstel in hierdie vorm van selfverdediging wat tot groot voordeel van die beoefenaars kan wees. Die lede van die Bloemfontein-dojo het op die landgoed buite Bloemfontein in hul tradisionele krygersdrag onder leiding van Sensei André van Vuuren hul oefeninge en voorbereiding gedoen en het voorwaar ’n indrukwekkende groep gevorm wat enige booswig die hasepad sou laat kies het.
Persone wat belangstel in Ninja SA of vrae het, kan André Janse van Vuuren by jvvuura@telkom.co.za of 082-564-3386 kontak.

No posts to display