Die RXME Longevity-sentrum in Bloemfontein het in samewerking met iS Clinical op Dinsdag 14 Oktober kankerpasiënte met gratis skoonheidsbehandelings bederf. Hierdie gebaar het hul gemoedstoestand dadelik verbeter en hoop ingeboë.
“Ons het besluit om in Oktober terug te gee deur gratis behandelings aan te bied aan mense wat kanker gediagnoseer is of behandelings soos bestraling en chemoterapie ondergaan. Ons wou ons liefde en waardering vir pasiënte wys,” sê Elle Curnow van iS Clinical en Sternlaser. Sy verduidelik dat pasiënte tydens kankerbehandeling gewoonlik nie skoonheidsbehandelings kan kry nie, maar hul produkte is veilig en spesifiek vir kankerpasiënte ontwerp om die vel te voed en te bevogtig.
Dr. Kobus Erasmus van die Longevity-sentrum voeg toe: “Dit is moeilik om te verstaan wat hierdie pasiënte deurgaan, maar ons kan hulp en ondersteuning bied.” Hy waarsku dat familie en vriende pasiënte nie aanhoudend aan hul toestand moet herinner nie, maar eerder bystand moet bied. “Ons probeer dit hier doen deur pasiënte toe te laat om in ’n private area te gesels terwyl hulle deur ’n terapeut bederf word. Die narratief moet verskuif: mense dink jy mag nie skoonheidsbehandelings kry nie, maar dit is nie waar nie – jy moet hoop gee.”
“Die groot ding is aanraking. Hierdie pasiënte sit vir ure deur chemoterapie of bestraling en gaan dan huis toe. Ons bied belangrike menslike aanraking,” sê Tiffany Pienaar, senior somatoloog.
Die behandelings het die hele dag geduur en byna 20 kankerpasiënte is daarmee bederf.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za






