Bloemfontein onderwyser beloon vir uitmuntendheid

0
1916

MARINÉ JACOBS

’n Onderwyser van Fichardtpark Primêre skool in Bloemfontein het sy skool se naam hoog gehou toe hy die toekenning vir ‘Uitnemendheid in Laerskoolonderwys’ ontvang het tydens die onlangse Vrystaat Nasionale Onderwystoekennings.
Frans Massyn, ’n wiskunde-onderwyser by die skool, is ook adjunkhoof en dien op verskeie komitees.

Volgens ’n woordvoerder van die skool, Barrie de Beer, is Massyn ’n toegewyde onderwyser wat sy leerders inspireer en motiveer. “Op professionele gebied is hy nou betrokke by verskeie wiskunde aktiwiteite, onder andere by Amesa Olimpiades, -kongresse en -werkswinkels, die Nautilus Wiskundeprojek (waarvan hy ’n stigterslid is) en aanbiedings van wiskundeklasse by agtergeblewe skole,” sê De Beer.

Massyn is baie nederig oor sy prestasie en sê dat alle lof die Here toekom. “Dit is my passie om met kinders te werk, hulle veilig en geborge te laat voel en om hul met menswaardigheid te beklee,” verduidelik hy.  Die onderskeie onderwysers in die provinsie is op ’n glansryke aand in November vereer.   Tydens die geleentheid het die LUR vir Onderwys, Tate Makgoe, sy waardering teenoor die onderwysers uitgespreek vir hul toewyding en harde werk en gesê dat hulle die kwaliteit van die onderwyssisteem bepaal.