Bloemfontein gaan weer die kunste vier!

0
971
Die Vrystaat Kunstefees keer vanjaar terug na die Universiteit van die Vrystaat. FOTO: Verskaf

Die Vrystaat Kunstefees keer uiteindelik vanjaar van 2 – 8 Oktober terug na die hartjie van die Vrystaat. Die klein Mini-MARK wat in Julie plaasgevind het, was omtrent net ’n voorsmakie van die hooffees wat gaan plaasvind.

Daar is ’n propvol program wat op feesgangers wag. Verskeie stalletjies, teaterproduksies en musiekkonserte waarborg weer hope vermaak. Corneli van den Berg, Feesdirekteur, sê “die Vrystaat Kunstefees-span is báie opgewonde om weer te kan feesvier in die Vrystaat! Ons is dankbaar dat ons die pandemie oorleef het.

“Nou werk ons voluit daaraan om weer platforms te skep waar Vrystaatse en Suid-Afrikaanse skeppendes hul werk aan gehore ten toon kan stel. Ons verwag ’n bloeitydperk en ons is entoesiasties oor wat die toekoms vir die kunste inhou!” Die stalletjies sal soos oudergewoonte iets vir almal se smaak aanbied en jy gaan jou beursie maar moet oopmaak vir van skoonheidsprodukte, handgemaakte kuns en -juwele, tot die lekkerste kosse om aan te smul.

Die kunstefees se Artistieke Direkteur, Michael Garbett, sê die kunstefees se program is propvol innoverende en vars produksies wat gehore behoorlik sal laat gons.

“Daar is verskeie skatte in die program om te ontdek. Vanjaar maak die Vrystaat Kunstefees sy deure oop en verwelkom almal terug, kunstenaars én feesgangers, by ‘n onvergeetlike tuiskoms”.

Feesgangers kan ook uitsien na die tweede aflewering van die kunstefees se klassieke musiekfees, Vrystaat Klank & Klassik (VKK). VKK word vanaf 31 Oktober tot 6 November by die Odeionteater op die UV-kampus aangebied.

Besoek die Vrystaat Kunstefees se webblad by www.vrystaatkunstefees.co.za vir die feesprogram.

Toegangskaartjies tot die feesterrein en teateraanbiedinge is reeds te koop by: https://www.webtickets.co.za/.

Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za