‘n Ma, haar dogter en hul tuinwerker wat glo uit wraak saamgesweer het om ‘n Bloemfonteinse drawwer te vermoor sal op 4 Februarie weer in die hof verskyn.
Charmaine le Roux, haar dogter Charndrei en Jerry Brummer staar aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en sameswering tot moord in die gesig. Die saak is vandag in die Bloemfonteinse Landdroshof uitgestel omdat die ondersoek nog nie voltooi is nie en daarby is sowat vyf verklarings nog uitstaande.
Dit kom nadat Karen Buschow, eienaar van ‘n plaaslike skool waar Charndrei voor die aanval gewerk het, in Julie oorval en vermoedelik met ‘n klip aangerand is, terwyl sy vroegoggend in Dan Pienaar gedraf het. Buschow is in die ysige koue vir die dood gelaat. Die Le Rouxs het Brummer glo gehuur om Buschow aan te rand nadat Charndrei onder ‘n donker wolk by die skool bedank het.
Volgens familiewoordvoerder, Anna-Marie van Zyl word ‘n saak van aanranding teen die polisie ondersoek, nadat Brummer glo tydens sy inhegtenisname deur die polisie aangerand is.
Die drie beskuldigdes is elk op borgtog van R1 500 uitgelaat. – Owen Kock