Bloemfontein Courant kry nuwe redakteur

0
2978
Die voormalige redakteur van Bloemfontein Courant en Voice, Maricelle Botha, het onlangs die leisels aan die nuwe redakteur, Pieter Delport, oorhandig. FOTO: SEITHATI SEMENOKANE

Bloemfontein Courant en sy susterpublikasie, Voice, het onlangs sy voormalige redakteur, Maricelle Botha, vaarwel toegeroep, terwyl die koerant terselfdertyd vir Pieter Delport, as nuwe redakteur verwelkom het.

Ná 5 jaar by Courant, het Botha besluit om haar vlerkte te sprei en bietjie te gaan reis. Haar kollegas sal haar veral onthou vir haar skerp sin vir humor en haar ongelooflike werkywer.
Delport is ‘n ou Bloemfonteiner met ‘n lang geskiedenis in die joernalistieke veld. Hy het in 1986 by Volksblad begin as ‘n drukkersassistent en het later ‘n pos as verslaggewer aanvaar.
Soos hulle sê, betaal harde werk altyd. Dit is ook waar in Delport se geval. Ná ‘n paar maande as verslaggewer is hy tot sub-redukteur van tuiskoerante en later van die hoofkoerant bevorder.
In 1997 het hy as mediaskakelbeampte by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie gaan werk en in 2000 het hy die Rosestad verlaat om by Landbouweekblad in Kaapstad as bylaeredakteur te gaan werk.
In 2005 het hy besluit om terug te keer na Bloemfontein waar hy by Volksblad as assistent-redakteur ingeval het.
Ná vyf jaar by Volksblad het Delport egter die Vrystaat vir Blou Bul-wêreld verruil. Hy was tot en met 2014, Beeld se assistant-redakteur, waarná hy na Bloemfontein teruggekeer het om sy eie koerant, Zoom News, te begin. Zoom is vroeer vanjaar by Bloemfontein Courant ingelyf.
Delport se gemeenskapsbetrokkenheid lê hom na aan die hart. “Uit die aard van my werk, is ek baie by gemeenskappe betrokke. Ek het 10 jaar gelede die Heidedaller van die Jaar-wedstryd help stig. Ek is ook ‘n stigterslid van die Dr Blok-oudleerlingevereniging en werk tans saam met ander toegewyde inwoners van Heidedal om ‘n eie kunstefees vir die Dal op die been te bring,” se hy.
Wat sy private lewe betref, spog hy met sy vrou, Mildred, en drie dogters, Tamryn (17), Tremaine (12), en T’meeka (9).
Al skryf hy daagliks, lees hy ook graag en luister na Jazz en R&B. Hy en sy gesin is ná al die jare steeds trotse inwoners van Heidedal. – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za