Die Bloemcare Psigiatriese Hospitaal het Maandag (15/7) hul 25ste verjaardag gevier, op dieselfde datum wat hulle die eerste keer hul deure oopgemaak het in 1999.
Tydens hul vieringe het die hospitaal nuwe behandelings bekendgestel, asook twee rolstoele aan leerders van Tswellang Spesiale Skool geskenk.
Bloemcare het hul deure oopgemaak op dieselfde perseel waar hulle vandag nog is, maar volgens Barbara Steenkamp, Bloemcare-hospitaalbestuurder, het die hospitaal oorspronklik baie anders gelyk.
“Dit was ’n huis wat oorspronklik aangekoop is en deur die jare is Bloemcare aangebou, en elke keer is behoeftes aangespreek soos wat dit van pasiënte en die gemeenskap se kant gekom het,” het sy vertel.
Bloemcare is oorspronklik gestig as gevolg van Bloemfontein se behoefte aan ‘step down’-geriewe, maar het gegroei saam met die behoefte aan so ’n hospitaal. “Op hierdie stadium is ons ’n 116 bed psigiatriese hospitaal, waarvan 8 beddens vir tieners is,” het Steenkamp vertel.
Bloemcare se span sluit 22 aktiewe psigiaters in, asook na aan 70 sielkundiges, arbeidsterapeute, maatskaplike werkers, fisioterapeute, en dieetkundiges, om te verseker dat elke pasiënt se behoeftes nagekom word.
Steenkamp het gesê dat die hospitaal se verjaardag ’n baie spesiale dag was, en vertel: “Ons besef ons is nou hier, maar ons is nooit afgesluit van die gemeenskap nie.” Daarom het die hospitaal besluit om die twee rolstoele te skenk.
“Dit is wat ons wil doen vir die gemeenskap,” het sy vertel. Bloemcare ondersteun ook ander organisasies in die Bloemfonteingemeenskap, veral dié wat omgee oor geestelike welstand. Tydens hul vieringe het die hospitaal ook ’n ketamine-kliniek bekend gestel.
Die kliniek gaan deur dr. Elzaan Coetzee, ’n narkotiseur, bedryf word. “Pasiënte wat opgeneem is, kan dan daar ketamine kry,” het sy gesê.
Buitepasiënte kan ook, met verwysing van ’n dokter, ketamine-behandeling by Bloemcare kry.
Op 29 Julie gaan Bloemcare hul “Partial Hospitalisation Programme” vrystel. “Dit is ’n program wat fokus op die welstand van pasiënte, waar hulle deur ’n dokter gesien word, maar nie oornag opgeneem word nie,” het Steenkamp vertel.
Warren Hawkins