Wêreldwyd word krieket in verskillende formate gespeel, insluitend T10, T20, 50-boulbeurt wedstryde, en Toetse. Maar een van die gewildste formate van die sport is Last Man Stands (LMS). Die formaat is ’n verkorte T20 spel, met agt spelers per span, om te verseker dat wedstryde binne twee ure voltooi kan word.
Die huidige wêreldkampioene van LMS is Masagamy van Suid-Afrika, en die huidige wêreldkampioenskappe (9-17 Desember) word tans in Kaapstad aangebied, wat plaaslike spanne ’n beter kans gee om hul vermoë te wys. Daar is onder meer drie spanne van die Stad van Rose wat na die Kaap gereis het om in die kampioenskappe mee te ding.
Arthur Kruger, van die CPI Masters-span, vertel dat sy span baie opgewonde is oor die toernooi. “Dit is ’n absolute voorreg om in die ‘LMS World Champs’ te speel,” het hy vertel, “dit is die ‘pinnacle event’ vir enige LMS speler en verg harde werk as ’n span”. Kruger vertel ook dat spelers gekeur word op die SA Kampioenskappe om deel te neem aan die Wêreldkampioenskappe.
Die tweede span wat hulself by die LMS wêreldkampioenskappe bevind, is die CPI Challengers. Die span het in die 2022-toernooi derde in die wêreld geëindig. “Deelname aan die World Champs is vir ons span ’n groot voorreg. Omdat dit nie elke jaar gehou gaan word nie, sien ons dit definitief as ’n geleentheid wat ons nie kan misloop nie,” vertel Lucas Boucher. “Ons hoop om suksesvol te wees, saam te groei as ’n span, en nuwe vriende te ontmoet. Die toernooi is ’n goeie maatstaf waaraan jy jouself kan meet.”
Bloemfontein se derde span wat gekwalifiseer het, is die CPI Hot Shots. “Dit is vir ons ’n groot voorreg en geleentheid om onsself te bewys by die World Champs en om teen die beste van die beste te speel,” het hul kaptein en al drie spanne se borg, JP Hunt, vertel. “Ons wil baie graag die World Champs wen en die beker huis toe bring. Ons wil die manne in Bloemfontein wys ons kan dit doen en hoop gee vir die ander spelers wat ook LMS speel.”
Al drie spanne hoop om hul merk by die LMS Wêreldkampioenskappe van 2023 te maak en om die nuwejaar so hoog as moontlik op die wêreldranglys te begin.
Warren Hawkins