Mariné Jacobs
Nóg ’n pluimpie val Bloemfontein te beurt wanneer een van sy inwoners eersdaags in die gewilde televisieprogram Proesstraat op kykNET sal verskyn. Ilne Fourie (27), ’n bekroonde dramaturg en aktrise, asook ’n voormalige dramastudent van die Universiteit van die Vrystaat, is onlangs gekies as die nuutste karakter vir die derde seisoen van Proesstraat. Hierdie program is nie ’n gewone televisiereeks nie, maar eerder ’n klomp talentvolle akteurs wat voor ’n lewendige gehoor moet improviseer met skreeusnaakse opdragte en leidrade wat deur gehoorstukke in hul ore gefluister word.
“Dit is die angswekkendste gevoel wat ek al in my lewe gehad het!” lag Ilne. “Dit is klaar erg genoeg vir ’n akteur om sy woorde te vergeet. Ek dink dit is enige akteur se absolute nagmerrie as daar skielik net nie ’n teks is nie! Daar is niks, jy het net jouself. Jy moet so vinnig op jou voete dink en op tien duisend plekke gelyk luister.” Sy is egter ekstaties oor die wonderlike geleentheid wat oor haar pad gekom het. Die toneelgeselskap het reeds verlede week begin skiet aan die reeks en Ilne is sommer met die intrapslag by die diepkant ingegooi. Niks kan egter haar entoesiasme demp nie. “Dit is ’n ongelooflike ervaring! Ek is so bevoorreg, dit voel of ek op die wolke loop,” vertel sy. “Daar is soveel vriendelike mense op die stel en die akteurs saam met wie ek werk, is sulke professionals. Ek voel absoluut veilig in hul hande, jy weet as jy nou regtig vashaak, gaan hulle jou uithelp.”
Sy vertel dat die reeks ’n nuwe stelleier het, die bekende aktrise Elize Cawood. Ilne is net vol lof vir hierdie legende van die teater en sê sy leer meer as wat sy ooit kon dink.Ilne is reeds vol planne vir die jaar. Behalwe vir Proesstraat, het sy ’n splinternuwe eenvrou-vertoning, Valentynsdag, wat binnekort op die planke sal wees. “Ek het ook drie nuwe stukke vir die Vryfees ingeskryf, so ek hou nou maar duim vas! En ek het weer my skrywerspen uitgehaal en ’n nuwe kinderstuk en ’n jeugteaterstuk geskryf, waarvan ek die regisseur sal wees.”Ná die onderhoud vertel Ilne dat sy hierdie jaar haar tien-jaar skoolreünie gaan bywoon. “’n Mens sien net hoe die skoolvriendinne so een na die ander trou en kinders kry en hier daag ek op sonder kind of kraai. Gelukkig was ek darem al ’n slag op die TV!” sê sy met ’n uitbundige lag.