Bloem-leerder deel passie vir lees

0
872
Amy Fröhlich met ’n paar van haar boeke. FOTO: VERSKAF

Amy Fröhlich, ’n graad 12-leerder aan C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, het in 2023 ’n merkwaardige 115 boeke gelees, ondanks haar besige skedule as ’n VRL-lid, toptien kandidaat en eerstespan-netbalspeler.

“Ek hou van sport, ek speel netbal by die skool en soms tennis. Ek is lief daarvoor om tyd te spandeer saam met my familie en vriendinne,” sê sy.

Haar liefde vir lees het van kleins af begin. “My ouers het al van kleins af vir my en my sussies boeke gekoop. Ek het so lief geraak vir lees al van kleins af, maar het eers meer boeke begin lees in graad 10,” vertel Fröhlich.

Die jong leser vind tyd vir haar stokperdjie te midde van haar skool- en sportaktiwiteite deur in die aande of tussendeur te lees.

Amy Fröhlich. FOTO: VERSKAF

Amy se gunsteling skrywer is Kiera Cass. “Sy bring baie van my gunstelinggenres saam in haar boeke, soos fantasie, romanse en avontuur,” sê sy oor die skrywer wie se boeke haar boei.

Lees het ’n groot invloed op Amy se akademiese prestasies. “Dit verbreed definitief my woordeskat en help met skryfstukke by die skool,” merk sy op.

Om haar mede-skoliere aan te moedig om meer te lees, stel Amy voor: “Dalk deur ’n boekklub te stig waar almal hulle ervaring van boeke kan deel en nuwe boeke aan mekaar kan voorstel.”

Sy beklemtoon die belangrikheid van lees vir jong mense, veral in ’n era van tegnologie. “Lees is ’n produktiewe alternatief om jouself te geniet. Dit help jou om jouself in iemand anders se sienings in te leef,” sluit Amy af.

Met haar indrukwekkende prestasies in beide akademie en sport, en haar passie vir lees, is Amy ’n inspirasie vir jongmense om hul talente en belangstellings ten volle te benut.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za