Bloem kry nuwe roosboom-projek

0
674
Afriform besig om Du Plessislaan in Langenhovenpark op te knap.

Bloemfonteiners is vasbeslote om die stad weer bekend te laat staan as die Rosestad, veral met die hulp van die nuwe roosplaas De Plante in Roodewal en AfriForum se Langenhovenpark-tak wat ingegryp het om Du Plessislaan op te knap.

Dié tak in Bloemfontein het groot planne vir die woonbuurt in die nuwe jaar. Volgens Anton Botha van Afriforum het hulle begin met hulle Roosboom-projek omdat hulle dit goed gedink het om Du Plessislaan op te knap, soos dit moet wees. Hy het verder verduidelik dat Bloemfontein altyd die Rosestad was.

“Daarom gaan ons in Langenhovenpark begin om Du Plessislaan weer ‘n rooslaan te maak.” Botha het aan Bloemfontein Courant vertel dat die Greenside-kwekery ‘n spesiale aanbieding het waarteen pragtige, sterk roosbome teen slegs R150 stuk gekoop kan word.

“Ons versoek ons lede om ‘n boom of bome by Greenside te gaan koop, die roosboom word daar gehou, en eenkeer per week tel ons tuinbouspan die bome op om dit dan in Du Plessislaan se tuine te plant. Die tuine gaan ook aangebied word sodat besighede hulle bemarking daar kan oprig teen ‘n minimale fooi.”

Hy het verder ook gesê dat hulle verantwoordelik sal wees vir die instandhouding van die laan. “Ons het reeds begin met die voorbereiding van die tuine. Ons vra ook dat mense ons sal help om ons lede te groei in LHP. Tans is slegs 600 mense daar lede, maar daar is 67 000 inwoners in LHP.”

Anton Botha

Die laan se padoppervlak gaan ook in stand gehou word met die bydraes vir Du Plessislaan. Hulle is verder aktief betrokke by die parke en het die afgelope drie weke gras begin sny. Die verskil kan reeds duidelik gesien word. Die speelparkie op die hoek van AG Visser en Du Plessislaan sal ook in stand gehou word.

Die tak beplan ook om in die jaar ‘n gemeenskapsprojek te begin in samehang met al die kenners wat betref die snoei van roosbome. “… sodat ons weer kan trots wees op ons omgewing.”

Rig enige navrae aan Anton Botha 082- 781-5672 of bothaa20@gmail.com – Indien mense nie by Greenside kan uitkom nie, kontak Greenside se Jan of Buks by 051- 451-3001.

 

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za