Bloem in Concert uiteindelik hier!

0
911
Die room van plaaslike kunstenaars gaan die naweek in Bloem in Concert optree. Van links voor is: Mario Lategan, Gerduan Kemp, Arend Brink Jr. en Corneil Müller; agter: Lize-Maré Markgraaf, Cezanne Yzelle en Ella Kotze.

19 Maart is om die draai, kaartjies verkoop soos soetkoek en daar is net twee dae oor om jou kaartjies vir die Bloem in Concert skouspel te koop.

Volgens vervaardiger en organiseerder, Marlou Strydom, is almal wat betrokke is by die produksie opgewonde en die repetisies vir die groot aand is goed op dreef. “Ek het ingesit by een van die repetisies en gemoedsrus gehad met die wete dat die tegniese span voorbereid is vir die produksie. Ek het dit beslis geniet en ek weet die gehoor sal dit ook geniet.

Die kunstenaars het al verskeie kere te kenne gegee dat dit vir hulle ‘n groot vreugde is om weer op so grootskaal op te tree. Ek dink vir die gehoor sal dit ‘n hoogtepunt wees om so ‘n wonderlike produksie op die verhoog in die legendariese Sand Du Plessis-teater te beleef,” voeg hy by.

Strydom sê dat hy omring word deur ‘n span professionele mense. “Om met so ‘n groot verskeidenheid kunstenaars te werk bring werklik vreugde in my hart en almal se entoesiasme oor die konsert is net fantasties!”

Hy sê verder dat hy verwag dat die gehoor tuis sal voel met die musiek wat aangebied gaan word. “Die artistieke span het hulself reeds oortref met die vreugdevolle items wat op die tafel geplaas is, maar ek verwag om Saterdagaand net glimlagte en genot op die gesigte van ons gehoor te sien.”

Soos voorheen berig, beloof die aand om groot pret te wees met die room van plaaslike kunstenaars. Hulle sluit in Gerduan Kemp, Cezanne Yzelle, Mario Lategan, Corneil Müller, Arend Brink Jr., Ella Kotze en Lize-Maré Markgraaf. Daar is ook ‘n 11-stuk orkes en die produksie sal gelei word deur Heinrich Lategan van Rhapsody Orchestra.

Bloem in Concert vind op 19 Maart om 19:00 in die Sand Du Plessis-teater plaas. Kaartjies kos R100, of R80 per persoon vir groepe van meer as vyf persone. Kaartjies is beskikbaar by die Pacofs kaartjiekantoor.

Bloemfontein! Sluit aan by hierdie ervaring. Dit beloof om iets oorspronkliks en ongelooflik na die wonderlike verhoog van die Sand Du Plessis-teater te bring. Kom ons maak live musiek weer wonderlik!”

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za