Bloem-boekwurm internationaal bekroon

0
772
Joe Mynhardt

Nadat hy meer as 60 boeke wêreldwyd gepubliseer het, het die bekroonde Suid-Afrikaanse uitgewer, redakteur en mentor, Joe Mynhardt, besluit dat dit tyd is om sy eie uitgewery te stig om ander skrywers te help.

Dié wenner van die Bram Stoker-toekenning het sy skryfreis in 2008 begin en kortverhale, novelles, onderhoude en essays vir baie groot name soos Neil Gaiman, Clive Barker, Stephen King, Charlaine Harris, en vele meer gepubliseer en geredigeer.

Mynhardt vertel hoedat hy van kleins af ‘n aanhanger van flieks, boeke en strokiesprente was. “Ek wou altyd skryf en my eie stories deel. Ek het wel later besef dat ek ‘n passie het om iets uit niks te kan skep, om idees in artikels te verander. Toe kombineer ek my liefde vir stories, boeke, fantasie en gruverhale met my besigheidsin,” sê hy.

Hy het in 2015 internasionaal begin naam maak toe hy kleiner toekennings gewen het en benoem is vir werke wat hy geredigeer het. “Van ons boeke het ook finaliste geword vir groter toekennings soos die British Fantasy- en Shirley Jackson-toekenning. Ek het in 2019 die Horror Writers’ Association (HWA) se Bram Stoker-toekenning gewen vir ‘n uitstekende prestasie in niefiksie-redigering. In 2021 het die maatskappy ook die HWA se spesialiteitsperstoekenning gewen.”

Mynhardt het groot planne vir die toekoms en vertel hulle is altyd besig om te groei en nuwe dinge te leer. “Hierdie jaar word baie van ons boeke op eReader-toeps gepubliseer, en volgende jaar begin ons met strokiesverhale, boeke en ons eie tydskrif.”

Vir meer inligting, besoek www.crystallakepub.com

 

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za