Bloeddiens oortref verwagtinge

0
212
Een van die dapper bloedskenkers tydens die SANBD se jongste veldtog, Junior Maraatsile. FOTO: VERSKAF

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) en die Wes-Kaapse Bloeddiens het tydens hul veldtog, “1 Dag – 1 Nasie – 5000 Eenhede Bloed”, hul eie verwagtinge oortref toe hulle landwyd 5707 eenhede bloed ingesamel het.

Die veldtog, wat op Saterdag 13 April plaasgevind het, het ook in Bloemfontein ’n draai gemaak.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en die Wes-Kaapse Bloeddiens bedank alle skenkers,” het Jana Wallace, hoof van Skenkerverhoudinge in die Vrystaat en Noord-Kaap, gesê.
Sy het ook vertel hoekom dit belangrik is vir die bloeddiens om sulke veldtogte te hou. “Bloeddienste verwag bloedvoorraadtekorte gedurende die wintermaande,” het Wallace vertel. “Bloedvoorraadvlakke is geneig om gedurende die Paastyd sowel as skoolvakansies te daal.”

Wallace het ook verduidelik dat die SANBD ’n moeilike tyd gedurende die winter beleef en sukkel om genoeg bloed in te samel om tred te hou met die aanvraag. “Aangesien gereelde bloedskenkers nie kan skenk terwyl hulle siek is nie, is dit van kritieke belang dat nuwe en gesonde bloedskenkers na vore kom en by die minder as 1% van Suid-Afrikaners aansluit wat onbaatsugtig bloed skenk en daagliks lewens red,” het sy gesê.

Dit is uiters belangrik dat die Suid-Afrikaanse Bloeddiens vyf dae se voorraad van elke bloedgroep handhaaf om beskikbaarheid te verseker. “ ’n Eenheid bloed hou net 42 dae ná skenking en om hierdie rede is dit belangrik dat bloedskenkers gereeld skenk,” het Wallace verduidelik.

“Skenkers kan so gereeld as elke agt weke bloed gee. Elke eenheid bloed kan ’n minimum van drie lewens red aangesien bloed in rooibloedselle, plasma, en bloedplaatjies geskei word,” het sy bygevoeg.

Die SANBD se teiken is om 3000 eenhede bloed elke dag in te samel om ’n veilige en voldoende bloedvoorraad in die gesondheidsorgstelsel te verseker. Die bloeddiens spoor ook meer mense aan om gereelde skenkers te word, om lewens in nood te red.

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za