Blitsbokke weer bo in Las Vegas

0
657

GEORG VAN ECK

Die Blitsbokke het dit weer vermag – hierdie keer in Las Vegas, Amerika waar hulle nie net hul titel suksesvol verdedig het nie, maar ook hul tweede titel in die Internasionale Rugbyraad se sewesrugby-reeks verower het.

Die harde werk, wat die span onder leiding van hul afrigter, Neil Powell, gedoen het om hul verdediging op te knap, is besig om vrugte af te werp.

In die Las Vegas het die Bokke in hul ses wedstryde slegs twee drieë afgestaan. In die eindstryd Maandagoggend het die Bokke hul aartsvyande, die All Blacks van Nieu-Seeland, 14-7 geklop en in die halfeindronde het hulle Samoa, wat met ’n baie fisieke aanslag vorendag gekom het, 14-0 gestuit.

Die feit dat die Bokke twee van hul blitsige driedrukkers, Seabelo Senatla en Sampie Mastriet, tydens die toernooi weens beserings verloor het, het die span ontwrig, maar nie van stryk gebring nie.

Van die groot uitblinkers vir die Bokke was Chris Dry, Frankie Horne, Kyle Brown Senatla en Cecil Afrika.

Die Bokke het ook 43-0 met Wallis, 29-0 met Kanada, Kenia 19-7 en Argentinië 36-0 afgereken.

georg@centralmediagroup.co.za