GEORG VAN ECK
Daar is gewis ’n blink nuwe sokkerster op die horison waarop Suid-Afrika, Bloemfontein, Heidedal en sy skool Brebner baie trots kan wees.
Tyrone Mondi, ’n 16-jarige gr. 10-leerling, vertrek in Januarie na Engeland waar hy by die Bolton Wanderers Sokkerklub se Internasionale Sokkerskool vir ’n jaar gaan speel en studeer.
Hy het die gesogte prys, ’n sokker- en studiebeurs ter waarde van bykans R400 000, voor die neuse van sy mede-Suid-Afrikaners en spelers van Amerika, Kanada, Aroeba, Switserland, Nigerië, Colombia, Pole, Indonesië, Australië, Nieu-Seeland, Brittanje, Indië, Noorweë en Mexiko weggeraap.
“Tyrone is ’n groot aanwins vir sy familie, provinsie en land,” het die voorsitter van Bolton Wanderers, Phil Gartside, van Mondi gesê.
Sy ouers, Paul en Sylvia Mondi van Heidedal, is oorstelp deur die nuus tydens die mediakonferensie van die Vrystaatse Toerisme-owerheid in Bloemfontein waar Mondi en een van sy landgenote, Tshegoftso John Mabaso van Grey Kollege, aan die Bloemfonteinse media bekendgestel is.
Mondi, Mabaso en nog drie ander Vrystaters, het aan vanjaar se Grand Skills-program in Engeland deelgeneem. Die Suid-Afrikaners het soos in die verlede goed gevaar, maar Mondi is die eerste Suid-Afrikaner om met die gesogte prys weg te stap.
Volgens Mondi se pa, wat hom tot op o.13-vlak afgerig het, is sokker speel op internasionale vlak nie Tyrone se enigste mikpunt nie. Hy vaar op skool goed in rekeningkunde en wiskunde en wil hom as ’n geoktrooieerde rekenmeester kwalifiseer.
Ook sy afrigter by Brebner, Lee Bateman, glo Mondi beskik oor al die eienskappe om ’n sukses van drome te maak. “Hy is ’n koelkop op die veld en ook as leerling. Hy is nie net talentvol nie, maar is doelgerig, vasbeslote en’n baie harde werker,” het hy gesê.
Brebner gaan ook met Bolton Wanderers skakel om Mondi help met sy studies verder oorsee.
“Ek wil die kans met albei hande aangryp en wil my afrigters en ook my pa bedank vir die vertroue wat hulle in my gestel het. My korttermyn doelwit is om vir Bolton Wanderers te speel. Ek droom ook daarvan om die eerste Suid-Afrikaner te word om as Bolton se Speler van die Jaar (Ballon d’Or) aangewys te word,” het Mondi gesê.