Blink toekoms vir Kivido in naellope

0
2865
RUFUS BOTHA

Die haastige naelloper van die Hoërskool Fichardtpark, Angel Kivido, het Saterdag by Motheo en Gariep se Sone 2-atletiekkampioenskap in Bloemfontein in die afdeling vir meisies 15 jaar, in veral die 200m, goed gevaar.

Hoewel daar nie elektroniese tye by die byeenkoms gehou is nie, het Kivido nogtans die vinnigste 200m-tyd van al die ouderdomsgroepe vir meisies behaal. Haar wentyd was ‘n uitstekende 25,8 en dit is heelwat vinniger as die wentye van die meisies in die 14 jaar- (28,8), 16 jaar- (29,8), 17 jaar- (26,0) én 19 jaar- (26,6) afdelings.

Verwerk jy Kivido se handtyd (25,8) na ‘n moontlike elektroniese tyd behoort sy Saterdag 26,04 aangeteken het en dié verwerking is naby aan die wentyd (25,88) op die nasionale skolekampioenskap in 2014. Kivido het Saterdag ook die 100m loshande haar eie gemaak in 12,7.

Nadia Meiring (Sentraal) het haar goed laat geld in die hamergooi vir meisies 19 jaar. Sy het met ‘n goeie 48,98m die meeste punte versamel op die puntetabelle wat gebruik word om die beste prestasies bepaal. Dié tabelle bly egter verdag.

Dit doen egter nie afbreek aan Meiring se vertoning nie, want haar afstand sou haar die silwermedalje besorg het by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap in 2014.

Onder die seuns het die hamergooivertoning James Havenga (Fichardtpark, 15 jaar) kop en skouers bo die res uitgetroon.
Havenga het die ysterbal op ‘n reusagtige 57,36m geslinger, ‘n bykans ongelooflike 6,31m verder as die wenafstand by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap verlede jaar. Sy spanmaat, Lohan Zeelie (Fichardtpark, 17 jaar), het self ‘n netjiese vertoning in die gewigstoot gelewer. Hy het ‘n afstand van 16,92m baasgeraak en dit sou hom ‘n bronsmedalje by genoemde Suid-Afrikaanse byeenkoms (2014) besorg het.

Die Hoërskool Louis Botha het oudergewoonte in verskeie nommers uitgeblink en in die naellope (19 jaar) met hulle diepte beïndruk.
Die drietal van Louis Botha, Hlapo Rantabane (10,5), Sefako Mokhosoa (10,6) en Ronald Rakaku (10,7) het die eerste drie plekke in die 100m vir seuns 19 jaar losgenael. Dié skool se naellopers in dieselfde ouderdomsgroep het ook die eerste vyf plekke in die 200m ingeneem. Hier was Brian Myeni (22,2) eerste, met Rantabane tweede (22,3).