Blink toekoms vir Eunice-hokkiespeler

0
1419
Taheera Augousti

Taheera Augousti se liefde en passie vir hokkie gaan beslis nog sorg vir ‘n blink toekoms.

Die 16-jarige wat in Bloemfontein gebore is en by Eunice skoolgaan, se liefde vir die sport het reeds op sesjarige ouderdom begin toe sy die eerste keer ‘n hokkiestok opgetel het. Sy het in graad 1 begin hokkie speel.

Augousti het vinnig die leer van sukses begin klim en het jaar na jaar vir haar skool se eerstespan begin uitdraf. Sy speel sedert graad 4 vir die Suid-Vrystaatse A-span en is vanjaar vir die Suid-Vrystaatse o.21-span gekies.

Sy het ook al verskeie toekennings verower, insluitend die beste middelveldspeler by die o.13 IPT, speler van die toernooi by die Top 12-toernooi, sowel as speler van die toernooi by vanjaar se St Mary’s hokkietoernooi.

Selfs in haar vrye tyd draai haar lewe steeds om hokkie. Sy oefen graag haar hokkievaardighede en werk aan haar fiksheid, maar sy staan tog ‘n tydjie af om saam met haar vriende en familie te ontspan.

Wat haar drome aanbetref, wil sy graag vir die Suid-Afrikaanse o.18- span gekies word sowel as die o.21-span. “Ek wil ook aan 2024 se Olimpiese Spele deelneem.”

Vir nou fokus sy op die o.21 IPT waar sy vir die Vrystaatspan van 25 tot 30 April sal uitdraf.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za