Blinde Louzanne wéér die vinnigste in die wêreld

0
2606
Louzanne Coetzee en haard gids, Khothatso Mokone. FOTO: MORGAN PIEK

Die volkome blinde wêreldrekordhouer in die 5000m, Louzanne Coetzee (T-11-gestremdheidskategorie) het Saterdag by Interstate Bus Lines en Bloemfontein Achilles se jaarlikse Glen halfmarathon (21,1km) met ‘n verstommende vertoning vorendag gekom.

Dié Kovsie en haar gids, Khothatso Mokone (ook ‘n Kovsie) het derde in ope-afdeling vir vroue geeindig en ‘n tyd aangeteken waarvan duisende vroue atlete in Suid-Afrika slegs van kan droom.

Die 24-jarige Coetzee se tyd van 1:29:34 is die vinnigste tyd wat ‘n blinde vrou in haar gestremdheidskategorie ooit in wêreldatletiek kon vermag. Dit is 56-sekondes vinniger as die vorige beste (1:30:30) wat agter die naam van die 27-jarige Sjinees, Jin Zheng pryk.

Coetzee het boonop haar persoonlike beste tyd van 1:37:48 wat sy verlede jaar by die OR Tambo halfmarathon losgehardloop het met meer as agt minute verpletter.  En, moenie dink die Sjinees is enige iemand se speelmaat nie. Haar veelsydigheid in middel én langafstandatletiek grens aan ongelooflik. Sy is die huidige wêreldrekordhouer in die marathon (42,2km) in ‘n tyd wat jou oé laat rek. Sy het dié wêreldrekord in April 2016 in Londen opgestel en pryk op die rekordboeke op ‘n uitmuntende 3:13:15.

Cheng het in September in die eindrondte van die 1500m (T-11-kategorie) by die Paralimpiese-spele in Rio de Janeiro haar vaart onderstreep toe sy die wêreldrekord in die 1500m met ‘n skitterende tyd van 4:38.92 in die eindrondte agter haar naam geskryf het.

Coetzee, wat in Maart die wêreldrekord in die 5000m by die SASAPD-kampioenskappe (Port Elizabeth) met ‘n tyd van 18:37,23 stukkend gehardloop het,  se tyd wat sy Saterdag aangeteken het sal nié as ‘n wêreldrekord opgeskryf word nie. Daar bestaan tans nie  ‘n wêreldrekord in dié nommer nie – slegs ‘n wêreldbeste wat die genoemde Zheng behaal het. .

Die afdeling (vroue ope) waarin Coetzee Saterdag by die Glen-wedloop koppe gestamp het met wat bekend staan as die “able bodies” is deur die Vrystaat marathon-rekordhouer, Paulina Njeya (Boxer, 1:23:45) gewen. Die tweede atleet in dié afdeling, Maryna Swanepoel (Eskom Gijimas, 1:28:39) was minder as ‘n minuut voor Coetzee.

Sluit jy Coetzee uit, het die uiters talentvolle 18-jarige Tyler Beling (Hoërskool Fichardtpark) met die beste vertoning van die byeenkoms vorendag gekom. Beling, wat die afdeling vir junior-vroue gewen het, was tien sekondes voor Njeya oor die eindstreep.

Dié tyd en algehele oorwinning onder die vroue was uiters indrukwekkend omrede hierdie Beling se debuut was in ‘n halfmarathon.

Chabeli Nyedimane (Nedbank AC) het in die afdeling vir ope-mans geen noemenswaardige teenstand gehad nie en hoewel hy nie die bestes in die land met sy wentyd van 1:07:08 slapelose nagte gaan besorg nie, het hy steeds die tweede atleet kis gehardloop.

Die silwermedaljewenner, Wilfred Leeu (SAPS, 1:10:57) was net kort van vier minute agter Nyedimane. – RUFUS BOTHA