Blinde Louzanne ingesluit in SA universiteite span

0
2358
Die blinde atleet van die Kovsies, Louzanne Coetzee en haar gidsXavier Adams is hier in aksie by die SA Universiteite veldwedloopproewe wat Saterdag by die Kovsies in Bloemfontein beslis is. Coetzee is na dié wedloop en met Adams se puik leiding ingesluit in die Suid-Afrikaanse Universiteite (USSA) veldwedloopgroep wat eersdaags gaan meeding by die wêreld studente veldwedloopkampioenskappe vir sogenaamde “nie-gestremdes” wat in Switserland gaan koppe stamp. FOTO: RIAN HORN

Die volkome blinde atleet en wêreldrekordhouer (5000m) in haar gestremdheidskategorie (T-11), Louzanne Coetzee van die Kovsies het ‘n onderskeiding behaal wat sover vasgestel is nog nie in wêreldatletiek beleef is nie.

Dié kort blondekop met die hart van ‘n leeu is ingesluit in die Suid-Afrikaanse (SA) Universiteite (USSA) veldwedloopgroep wat gaan koppe stamp by die wêreld studente-veldwedloopkampioenskappe wat 7 April in Switserland beslis word. Let wel, hierdie is ‘n kampioenskap vir atlete sonder fisiese gestremdhede.

Coetzee en haar nuwe gids vir veldwedlope, die valskermsoldaat, Zavier Adams het Saterdag in Bloemfontein saam met die, wat bekend staan as “nie-gestremdes” aangetree by die USSA proewe vir die genoemde span wat in Switserland gaan meeding.

Adams, wat Coetzee skitterend gelei het in die 10km wedloop wat baie tegnies is vir ‘n blinde atleet, het hom uitsekend van sy taak gekwyt deur haar so min as moontlik deur areas waar sy kan val te laat hardloop, en hy moes sodoende die mees ongelyke areas self trotseer en boonop deurgaans met haar kommunikeer.

Coetzee was van meet af aan heel agter in die wedloop, maar het met uitstekende passkatting die atlete voor haar een vir een ingekatrol.

Sy het uiteindelik tweede geeindig in ‘n bykans ongelooflike 10km-veldwedlooptyd van 39:32. Slegs haar mede-Kovsie, Tshepang Sello (38:04) kon voor haar eindig in die universiteite proewewedloop. Sello is ‘n Olimpiese-spele atleet (800m) vir Lesotho.

Sello is nié ingesluit in die USSA groep vir Switserland nie, klaarblyklik omrede dit ‘n USSA reël is dat jy ‘n Suid-Afrikaanse burger moet wees om in aanmerking vir dié groep te kom.

Dié SA Universiteite proefwedloop is saam met die SA-proewe vir die kies van die SA-span wat aan die Afrika-kampioenskappe gaan deelneem, beslis. Coetzee was boonop algeheel sewende tussen die room van Suid-Afrika se senior-vroue veldwedloopatlete.

Nog ‘n Kovsie en die land se voorste langasem onder die skonergeslag, Kesa Molotsane (35:29) het die SA-proewe gerieflik in 35:29 gewen en sodoende die SA-veldwedloopkampioen, Glenrose Xaba (Gauteng Noord, 35:39) met tien sekondes afgeslag. Molotsane was egter ook nie verkiesbaar vir die USSA-groep nie omrede sy volgens USSA-reëls te oud is vir deelname in Switserland.

Dit beteken dat Coetzee die eerste keuse vir die USSA-groep was vir die SA Universiteite span.

Marné Mentz (39:44) van die Kovsies is ook in die USSA-span ingesluit en dit nadat sy ‘n moeilike wedloop beleef het. Sy was deurgaans voor Coetzee wat haar later verbygesnel het. Mentz het langs die pad van haar skoene ontslae en sukkel ook met ‘n besering.

Coetzee, wat haar beste tyd op dié spesifieke veldwedloopbaan met meer as drie minute verbeter het, het na die wedloop met Courant gesels: “Dit was hard, maar ongelooflik lekker. Ek is baie fiks en vanjaar is ‘n oefenjaar. Ek en my afrigter het met geen spesifieke doelwitte die jaar ingegaan, maar aan heelparty wedlope deelneem, bloot vir oefening. Nou het die moontlikheid vir deelname in Switserland oor ons pad gekom en ek gaan vir seker op my beste probeer wees vir dit.”

Sy het voorts gesê: “Xavier (gids) was absoluut ‘n juweel van ‘n gids. Indien dit moontlik is, sal hy tot aan die einde van my loopbaan altyd my veldwedloopgids wees. Sy kommunikasie en aanmoediging is iets uit die boonste rakke”. – RUFUS BOTHA