Blinde Danie gedy in Stellenbosch

0
687
Die blinde atleet van die Kovsies, Danie Breitenbach (links), is hier op pad om een van sy twee SA rekords te verbeter by die SASAPD-kampioenskappe wat verlede week in Stellenbosch beslis is. Sy gids, Oratile Molale, lyk self of hy hier harde bene kou saam met Breitenbach. FOTO: CELESTE KLOPPER FOTOGRAFIE

ie blinde atleet van die Kovsies, Danie Breitenbach, het verlede week by die SASAPD (Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir atlete met liggaamlike en siggestremdhede)-kampioenskappe in Stellenbosch gewys dat hy een doelwit voor oë het, en dit is om die land te verteenwoordig by aanstaande jaar se Paralimpiese Spele in Tokio (Japan).
Jy skop nie maklik ‘n atleet met Breitenbach se veggees en deursettingsvermoë agter elke bos uit nie en hy het sy terugkeer na die nasionale kampioenskappe met mening met twee SA rekords gevier nadat hy vir twee jaar deur die beseringspook geteister is.
Breitenbach, wat in die T-11-kategorie (senior mans, 25 jaar) deelneem, het in die 800 m saam met sy gids, Oratile Molale (Kovsies) van meet af aan die krane oopgedraai in hul jag na die SA rekord wat op 2:08,90 (2017) agter sy eie naam op die boeke gepryk het.
Na ‘n blitsige eerste ronde van 61 sekondes, het die moegheid ingetree, maar Breitenbach het geveg tot die einde en oorwinning gesmaak in ‘n skitterende 2:05,43. Hy het sodoende sy eie SA rekord met 3,47 sekondes kafgedraf, en dit is groots oor slegs 800 m.
Breitenbach het sy puik vertoning onderstreep toe hy twee atlete wat in die 20-jaar-ouderdomsgroep wat saam met hom deelgeneem het, goed agterweë gelaat het. Dié twee, Nielbert Mostert (Vrystaat, 2:29,58) en Shonelo Shange (KZN, 2:34,83) het in die T-13-gestremdheidskategorie meegeding, en dit beteken dat hulle oor voldoende sig beskik sodat hulle sonder ‘n gids kan deelneem.
Mostert het in die einste wedloop ook die SA rekord in sy afdeling verbeter en mens kan slegs bespiegel hoeveel vinniger hy sou vertoon het indien hy nie ‘n paar ure voor die wedloop aan ‘n strawwe fietswedren deelgeneem het nie. Hierdie jong man van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein se veelsydigheid spreek boekdele en hy kan nog groot naam maak in sport vir visueel gestremde sportlui.
Breitenbach en Molale (gids) het die volgende dag vir die 1500 m aangetree waar sy eie SA rekord op ‘n puik 4:26,90 op hom gewag het. Hoewel dit geblyk het onwaarskynlik te wees dat hy na die strawwe 800 m naby aan sy 1500-m-rekord sou kom, het hy soos ‘n gewonde leeu baklei en die rekord net-net met ‘n tyd van 4:26,06 verbeter.
Nog ‘n Vrystater wat hom goed van sy taak gekwyt het deur met twee SA rekords (F-32-kategorie, seniors, 25 jaar) vorendag te kom, is Ernest Lubbe. Hierdie kragman het sy eie SA rekords in die diskusgooi (13,29 m) en klubgooi (22,76) verbeter.
In die diskusgooi het hy sy vorige rekord van 11,86 m met 1,43 m verpletter. In die klubgooi was hy 45 sentimeter beter daaraan toe as die bestaande rekord.
Die enkel-geamputeerde hoogspringer van Bloemfontein, Obed Lekhehle (T-42-kategorie) het in die ouderdomsgroep vir mans 20 jaar sy merk gemaak met ‘n SA rekordhoogte van 1,45 m. Dit is egter 10-sentimeter laer as sy SA rekord in die 18-jaar-ouderdomsgroep wat hy in 2017 in die boeke ingeskryf het. – RUFUS BOTHA