Blinde atleet en stapper sterre by padwedloop

0
759

RUFUS BOTHA

Die blinde middelafstandatleet van Kovsies, Danie Breitenbach, en een van Suid-Afrika se voorste stapatlete, Mthembi Chauke, was Saterdag in Bloemfontein die groot uitblinkers by Webbers Prokureurs en Vic Theron Laboratories se 10km-padwedloop.
Dit is nie aldag dat ‘n blinde atleet 10km onder 40 minute kafdraf nie. Die 20-jarige Breitenbach het dit egter Saterdag vermag toe hy en sy gids, Marius Wessels (Pentagon Pistols), in ‘n kookwater 39:50 oor die eindstreep gehardloop het. Dit is ‘n reuseverbetering op sy vorige beste (42:28) wat hy ‘n jaar gelede opgestel het.
Wat aan Breitenbach se vertoning nóg meer aansien verleen, is dat hy algeheel 26ste geëindig het onder 208 atlete wat die wedloop voltooi het.
Wessels sal voortaan Breitenbach se gids wees. Dit kom nadat sy vorige gids, Barry Williams (Nedbank Bloemfontein Achilles), besluit het dit het tyd geword dat Breitenbach deur iemand vinniger gelei word en Wessels hom bereid verklaar het om Breitenbach te help vir moontlike deelname aan die Paralimpiese Spele in Brazil (2016).
‘n Klop op die skouer moet gaan aan die 44-jarige Williams wat Breitenbach bykans twee jaar as gids bygestaan en hom tot verskeie nasionale middelafstandrekords in die T-11-afdeling (blind) gelei het.
Chauke se stapvertoning was ook buitengewoon. Dié Kovsie, wat verlede week ‘n puik tyd van 46:00 aangeteken het by ‘n padwedloop in Bloemfontein, het Saterdag met 30 sekondes verbeter en ‘n uitmuntende tyd van 45:30 agter sy naam geskryf.
Hy was algeheel 52ste en het nie minder nie as 166 deelnemers agterweë gelaat. Slegs ‘n handvol was stappers – die res het gehardloop.
Dumisane Hlaselo (Kovsies, 30:37) was algeheel eerste onder die manne. Hy is gevolg deur William Manelo (Eskom, 30:49) en Khotatso Mokone (30:50).
Paulina Njeya (Nedbank RC) was die eerste lid van die skoner geslag oor die eindstreep in ‘n goeie 37:06.
Sy is gevolg deur Kesa Molotsane (Kovsies, 41:12) en die junior, Puleng Matlosa (Nedbank Bloemfontein Achilles Development, 42:38).

info@bloemfonteincourant.co.za.