Blinde atleet draf 10km kaf in pragtyd

0
800

RUFUS BOTHA

Die Bloemfontein Striders se Sweet-en-Eet-10km-padwedloop het weliswaar nie vuurwerkvertonings opgelewer nie, maar die blinde wêreldkampioenskapatleet, Louzanne Coetzee (Kovsies), het daarvoor opgemaak deur ‘n skitterende vertoning.

Met die Suid-Afrikaanse veldwedloopkampioenskap, wat ook Saterdag (Nelspruit) beslis is, was die groot name onder Bloemfontein se langasems afwesig by die Sweet-en-Eet-wedloop.

Coetzee, wat dié keer nie saam met haar gereelde gids, Rouxné Jacobs, gehardloop het nie, maar wel saam met haar ander oefenmaat, Ricus Cox, het die 10km in ‘n skitterende 46:07 voltooi en sodoende algeheel derde onder die senior vroue geëindig.

Coetzee het haar persoonlike beste tyd met meer as ‘n minuut verbeter. Die wedloop dien ook as voorbereiding vir moontlike deelname aan die 800m vir atlete met liggaamlike gestremdhede op die wêreldkampioenskap (Doha) in Oktober. Die Suid-Afrikaanse span is nog nie bekendgemaak nie, maar sy het die kwalifiserende vereiste vir deelname in Doha reeds in Maart maklik oortref.

Paulina Njeya (individueel), die voorste vroue langafstandatleet in die Vrystaat, het die wedloop gerieflik in 38:44 gewen. Dit was duidelik dat sy nie voluit gehardloop het nie, want die gewildste marathon (42,2 km) in die land, die Kaapstad-marathon, is Sondag in haar visier.

Sunet Nicolaisen (individueel), het tweede onder die vroue klaargemaak in 44:45 en sodoende die prysgeld vir die eerste meestersatleet (40 tot 49 jaar) ook in haar sak gesteek.

Khotatso Mokone (Kovsies), het ‘n wegholoorwinning in die manswedloop in 31:16 behaal en is gevolg deur sy spanmaat, Windy Jonas (Kovsies, 33:01). Die gasheer (Bloemfontein Striders) se Jaco Ebersohn was derde in 36:07.

Die ander wenners was:

Mans: 40 tot 49 jaar: André van Wyk (Pentagon Pistols, 44:23), 50 tot 59 jaar: André Botes (Pentagon Pistols, 48:52), 60 jaar plus: Willie van Loggerenberg (Bfn Striders, 49:14), stap: Pieter Roux (Pentagon Pistols, 1:13:25).

Vroue: 50 tot 59 jaar: Adéle Bosch (Bfn Striders, 48:52), 60 jaar plus: Louise Combrinck (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:11:14).